Is dit verkeerd van my om die Karoo te mis?
Is dit verkeerd van my om die Karoo te mis? Dat ek in 'n koue, nat Engeland sit, en die Karoo mis? Die Karoo kan warm en droog wees. As dit regtig droog raak, lyk die veld asof die wêreld gebrand het: swart, grys, dood. Daar is min mense wat dit --droogte, skaarste, leegtheid, eensaamheid-- mooi sou noem. Verder, so warm soos die somer kan word, raak die winter geniepsig koud. Al is die lug helder blou moet mens gewoonlik maar 'n warm baadjie aantrek as jy wintertyd uit gaan, en die ryp wit op die gras vir die son lê en wag. Die keersy is ewe waar. As 'n lekker donderbui met haar spierwit, kokende wolke, oor die Nuveldberg storm en haar yslike druppels in die stof laat val, en die bruin water al skuimend diep dongas in die dorre bogrond grawe, weet jy dat die 8-dae gras 'n week later die rante 'n groen skynsel teen die helderblou hemel en donker ysterklip rante sal gee. Dán raak die wêreld asemsnak mooi. So mooi dat 'n mens moet stilstaan en kyk om die prag in t...







