Blommetjies en Booster Shots

Toe ek nog klein was het my ma my dokter toe gevat om inentings te kry. Dit was een spuit vir 'n klomp verskillende voorkombare siektes. Polio was een. Ek dink witseerkeel was nog een, maar ek praat onder korreksie. Daar was niks vir stoutgeit of gebreekte harte nie; daardeur moes ek maar self worstel.

Ek kan nie onthou presies hoe oud ek was nie. Ek kan ook nie die hele gebeurtenis onthou nie, maar ek weet dit het gebeur omdat die spuit dimpeltjies op my arm gelos het: een dimpel in die middel met ses dimpels eweredig rondom versprei. Soos die trommel van my gunsteling speel *rewolwer. Ek en my suster het die ringetjie dimpels 'blommetjies' genoem. Myne is nog steeds sigbaar as ek in die helder badkamerlig mooi soek terwyl ek stort.

Nou ja. Ek dink nie die vooruitsig om vir die res van jou lewe 'n 'blommetjie' op jou arm te dra is noodwendig die beste strategie om jong manne geënt te kry nie, maar ek was toe nog te jonk om teë te stribbel as my ma sê "Klim in die kar, ons gaan dokter toe." Sy het gesê dis 'n booster wat my vinniger en sterker sal maak. As ek reg onthou is my gehoorsaamheid daarna met 'n Wimpy milkshake beloon. 

Ek dink nou aan my blommetjie omdat ek pas my Covid booster gekry het. Dis 'n bietjie hartseer omdat ek nie 'n Wimpy milkshake as beloning kan kry nie. Ek moes maar met 'n garage masjienkoffie en 'n donut op pad werk toe tevrede wees, en self daarvoor betaal, want my ma is in Suid-Afrika. 'n Beloning het ek wel verdien...

Die dag het begin met die kinders wat natuurlik eerste wakker is en TV-stories wil kyk. Dit was my beurt om op te staan, wat my die geleentheid gegee het om 'n lateral flow test te doen. Uitslag: negatief (beide ek en die toets, want ek wou nog slaap) wat beteken ek is waarskynlik nie siek nie. Of ten minste nie siek met Covid nie. Ek kan maar my spuit gaan kry.

Na ons die kinders by die skool afgelaai het, het my vrou my by die inentingsentrum gaan aflaai. Die sentrum (een van vele in ons omgewing) bestaan uit twee moerse feestente wat in Queen Mary's Hospital se parkeerarea opgeslaan is. Dit voel nogals koninklik en baie indrukwekkend: wifi, elektrisiteit, lugversorging, toilette en alles wat 'n mens moontlik nodig kan hê om derduisende mense weekliks in te spuit.

Ek was 15 minute vroeg vir my 9:20 afspraak, maar daar was al 'n ry lank genoeg om my moed dwarsdeur my skoene se vlak sole tot op die sypaadjie te laat val. Dieselfde sypaadjie waar ek agter in die ry loop staan het. "Fok..." het ek saggies agter my masker gefluister (in geval daar ander Suid-Afrikaners in die ry staan). Ek hou so min van in rye wag soos wat ek daarvan hou as mense naby my hard kou. Maar ek hou nog minder daarvan om van 'n voorkombare siekte siek te word of, nog erger, iemand anders aan te steek, so ek gaan staan toe maar.

Die ry het gelukkig gou geloop. Die vrywilligers en mediese personeel is al so flink dat 'n mens vinnig en veilig gehelp word. Daar is al derduisende mense deur die sentrum, so die masjien is goed ge-olie en in geloop, ten spyte van al die punte waar 'n mens dieselfde vrae oor en oor moet beantwoord. Hulle moet immers seker maak dat iemand nie per ongeluk die verkeerde spuit kry, of dalk 'n kans vat om voor in die ry te kom staan nie.

Almal van ons staan met ons maskers aan. Dit help 'n bietjie teen die koue winterluggie wat saggies roer. Toe ons binne-in die tent kom is dit lekker warm. Daar is afskortings wat 'n bietjie privaatheid gee vir wanneer die spuite toegedien word. Die plakkers op die grond wys waar om te staan en waarheen om volgende te gaan. Hier is 'n rooi lyn, daar is 'n groen ry, anderkant is 'n paar voetspore op 'n pienk kol. Die vrywilliger wat verwelkom maak praatjies om almal gerus te laat voel. Sy het sekerlik die maklikste werk, want almal wat in die ry staan wíl daar wees.

Sommer gou-gou is ek voor in die ry. Dieselfde vrae word weer gevra: "Ja, dit is my selnommer en my woonadres is nog steeds dieselfde. Ek verjaar nog steeds op dieselfde dag; ja, elke jaar. Ja, ek voel gesond vandag. Nee, ek was nie siek in die afgelope 28 dae nie. Nee, ek het nie allergieë nie... behalwe bysteek, maar dis nie relevant nie. Nee, ek ondersteun die Springbokke, nie Engeland nie. Ja, ek wens ek was in Suid-Afrika vir Kersfees, maar mens kan seker nie alles kry wat jy wil hê nie, of hoe. Haha, dankie, ja, ek het nogal gewig verloor... Groen ry? Goed so, ek sal daar gaan staan en stilbly..."

Soos wat die ry voor my korter word probeer ek uitwerk by watter inspuiter ek gaan beland. Dis die mooi ouer oom met Esau se harige voorarms, die mooi blonde suster wat pas 'n koffiebreuk gehad het, of die mooi brunette wat al klaar moeg lyk. Ek sê maar almal lyk mooi, want almal dra maskers. Enige een kan 'n Lea of 'n Ragel wees en ek het nie lus om nog sewe jaar te wag nie. Die brunette roep my na haar hokkie toe.

Sy vra my 'n klompie vrae waarop ek gelukkig (weer) al die antwoorde ken, wat min genoeg gebeur as 'n mens jong kinders het. Sy verduidelik dat ek vandag die Pfizer entstof gaan kry. Ek sê dis reg. Sy verduidelik nog 'n paar goedjies van newe-effekte, ens. en vra of ons kan voortgaan. Ek sê dis reg. Sy kom sit langs my soos ek my baadjies uittrek om my arm kaal te kry. Uit die hoek van my oog sien ek sy pluk 'n silwer stofsuierpyp uit die yskas. Ek dog eers sy wil die hokkie skoonmaak voor ons begin. Toe besef ek dis die spuitnaald en ek dink by myself: dis nie reg nie.

Ek raak eers gespanne, want ek weet nie of my bo-arm genoeg vel het om daardie spuit te vat nie. En wie weet waar die volgende beste plek is met genoeg ruimte... My gedagtes wandel na wrede, donker plekke, maar haar jong stem bring my terug na die werklikheid. Gelukkig sê sy ek moet my mou oprol; nou weet ek waar die spuit moet in. En na verdere ondersoek besef ek dat die naald eintlik baie kleiner is as wat ek aanvanklik gedink het. Ek is immers nie bang vir naalde nie. Hoeveel keer het ek nie sonder probleme in Moedergemeente se kerksaal gaan bloed skenk om my medemens te help nie? Hierdie naaldjie is 'n klein hondjie se blaf in vergelyking met die beesnaalde waarmee ek liters en liters se bl...

Terwyl ek nog dink steek sy en spuit. Dis seerder as wat ek die eerste twee entings onthou en ek voel hoe my skouerspier onwillekeurig begin saamtrek. Hoe meer die spier saamtrek, hoe seerder word dit. Hoe seerder dit word, hoe meer trek die spier saam. Toe sy uiteindelik die naald wil uittrek is hy so krom gedruk dat sy hom moet uitskroef. Sy kyk die krom naald so en vra, sonder enige emosie, of ek 'n gratis kurktrekker as aandenking wil huis toe vat. Nee dankie, sê ek, my wyn kom in bokse, nie bottels nie. 'n Skewe kurktrekker met 'n skerp punt sal net my spoed breek. Goed, sê sy, ek kan maar gaan, en sy stop 'n paar pamfletjies in my hand.

My pa het altyd gesê: "As iets gratis is, neem twee." Maar ek sien nie kans om nou nog 'n kurktrekker te druk nie, so ek stoei my warm baadjies aan, stap uit in die koel luggie en vat die pad werk toe. Dit gee my genoeg tyd om te dink en te onthou. Om die gebeure en gevolge te verwerk.

Na 'n rukkie besef ek daar is 'n groepie tieners wat my stilletjies agtervolg, elkeen met 'n selfoon of twee in die hand. As ek links draai, draai hulle links. As ek regs draai, draai hulle regs. Ek besef toe hulle is agter my nuwe entstof-wifi aan. Met die laaste spuit was my arm nie eers seer nie. Nou, na die derde spuit, praat ek vlot 5G en tel M-Net van die 90's op. Egoli speel nog en Derek Watts gee iemand gas op Carte Blanche. Corné Krige het sopas die Curriebeker omhoog gelig. Verder kry ek elke nou en dan update notifications vir verskillende organe en MS Word. Gelukkig is my anti-virus nou op datum...

Dis als grappies en oordrywing. Ek verstaan dat dit 'n sensitiewe saak vir baie mense kan wees. Op die ou einde van die dag moet elkeen van ons vir onsself besluit en die gevolge van ons besluite dra. Ek het besluit om die derde spuit te vat toe ek kon, want ek glo dis die regte ding om te doen. As dit gaan help dat ek makliker saam met my ma 'n Wimpy milkshake sal kan drink, dan doen ek dit. Net soos toe ek as kind 'n blommetjie gekry het en sodoende lank genoeg geleef het om in verwondering te sien dat die merke nog steeds op my arm is. 'n Blommetjie wat ek met trots dra.


* My ma het destyds vir my twee speelgoed rewolwers elk 'n holster van leer gemaak. My fiets het dikwels 'n perd geword wat my pa se duiwe verjaag het, en die klappers wat in die geweer moes klap was nooit beskikbaar op die winkelrakke nie, maak nie saak hoe hard my ma gesoek het nie... Ek het eers begin verstaan hoe sulke geraas goedjies 'uitverkoop' kan wees toe ek self 'n ouer geword het.

Comments

Popular Posts