Is dit verkeerd van my om die Karoo te mis?
Die Karoo kan warm en droog wees. As dit regtig droog raak, lyk die veld asof die wêreld gebrand het: swart, grys, dood. Daar is min mense wat dit --droogte, skaarste, leegtheid, eensaamheid-- mooi sou noem.
Verder, so warm soos die somer kan word, raak die winter geniepsig koud. Al is die lug helder blou moet mens gewoonlik maar 'n warm baadjie aantrek as jy wintertyd uit gaan, en die ryp wit op die gras vir die son lê en wag.
Die keersy is ewe waar. As 'n lekker donderbui met haar spierwit, kokende wolke, oor die Nuveldberg storm en haar yslike druppels in die stof laat val, en die bruin water al skuimend diep dongas in die dorre bogrond grawe, weet jy dat die 8-dae gras 'n week later die rante 'n groen skynsel teen die helderblou hemel en donker ysterklip rante sal gee. Dán raak die wêreld asemsnak mooi. So mooi dat 'n mens moet stilstaan en kyk om die prag in te neem.
Maar dit gebeur selde. Dalk is dit juis die skaarste van die skoonheid wat die skoonheid so besonders maak.
En so mis ek vanaand daardie wêreld. Daardie onmerkwaardige, dorre, leë wêreld met haar snikhete somers en ysige rypwinters. Die plek waar skynbaar eindelose, vaal vlaktes en wolklose blou lug mekaar in alle rigtings by die horison ontmoet, vriendelik bladskud, en die oranje-pers skemeraand met oop arms verwelkom.
Ek mis die stilte.
My pa het my suster van die tipe stilte wat deur die Karoo sluip vertel: stilte wat 'n mens eintlik bang maak. Stilte wat 'n mens ronduit met jou eie gedagtes en gevoelens konfronteer omdat daar niks anders is wat jou aandag kan aftrek nie. Stilte wat 'n mens laat dink eerder as praat. En wanneer jou gedagtes opgeraak het kan jy nie anders as om na die stilte te luister nie; soos die Here dit bedoel het.
Is dit verkeerd van my om te verlang na 'n stoep, 'n stoeltjie, en die naguiltjies wat oor die gras swiep en tjoe-wha tjoe-wha sing terwyl die sterre begin flikker? Of die hitte van die laat-oggend wat jou na skaduwee laat soek, al dra jy 'n hoed. Is dit verkeerd van my om na daardie stil, leë, droeë, eensame, eenkant wêreld te verlang?
Nee. Dit is nie verkeerd nie.
Al is dit 'n kontrasterende plek --as jy daar is wil elders wees (waar die radio weervoorspelling gewoonlik sê dit gedeeltelik bewolk is...), en as jy weg is wil jy terug gaan-- bly dit 'n spesiale plek. Daardie stil, leë, droeë, eensame wêreld is nie so stil, leeg, droog en eensaam soos die res van die wêreld dink nie. As jy deur die oppervlak kan breek sal jy sien dat die Karoo 'n plek is waar 'n mens jouself kan vind (soos Coenie de Villiers gesing het), maar ook waar jy gevind kan word. Waar 'n mens jou medemens waardeer en ook deur jou medemens waardeer kan word. Waar dankbaarheid eerder die norm is, want die herinnering dat môre nie gewaarborg is nie reg rondom jou lê. Waar 'n mens meer mens word omdat jy niemand anders as jouself kan wees nie.
Miskien mis ek nie die plek soseer nie, maar eerder die weerklank van wie ek daar was, of dalk wie ek kan wees.
In elk geval. Vanaand drup die herfsreën teen Engeland se vensters, en my oorle pa het altyd gesê 'n mens mag nie reën weg wens nie. Ek skat dis tipies van mense wat droogte geken het.
Comments
Post a Comment