10 Jaar Se Harde Kou

My pa het 'n ou, hemelblou Ford Cortina met 'n swart dak gehad. Dit was nog die model wat met ronde hoofligte uitgebring is, nie die byderwetse vierkant-oë wat in latere jare te voorskyn gekom het nie. Die agter-sitplekke het meer strooihalms uit duiwemandjies as sitplekgordels gehad; deels omdat meer duiwemandjies as mense in daardie deel van die kar gery het, deels omdat agter-sitplekke in daardie dae sonder sitplekgordels ontwerp is.

Die kar het 'n unieke dreun gehad. Ek onthou hoe ek die diep dreuning van ver of kon hoor as hy saans laat van die kantien af om Hattinghstraat se hoek aankom. Die klank het my soms aan die lied "En hoor jy die magtige dreuning..." laat dink. Daar was iets fout met die uitlaatpyp wat dit laat klink het of 'n Harley onder 'n Spitfire vasgemaak is en knaend om hulp skree. Later het die magtige dreuning die hele uitlaatsisteem laat rattle om 'n nuwe versie by 'n ou lied te voeg.

En tog het ek een nag deur die bekende dreun en rattle geslaap toe die kar langs my kamer uit ons erf gesteel is. Die diewe moes met 'n verwoede spoed daar probeer wegtrek het, want die een ornamentele motorhekkie - so 'n meter hoog met die wit verf besig om af te roes - is daardie nag amper dubbeld gevou deur die verwoestende krag van 'n 2.5 liter Cortina-enjin onder die swaar voet van 'n bang, haastige man. Ons kon net wonder hoe die kar moes lyk as die hek só in sy moer in gery is.

Dit was egter 'n taai kar al was hy oud en plek-plek geroes. Rateltaai. So taai dat hy 'n paar dae na die diefstal duskant Ermelo langs die hoofpad gekry is: enjin oorverhit en 'n petroltenk wat net plek in het. Die Cortina is summier terug Beaufort-Wes toe gesleep, reg- en vol gemaak, en my pa kon daardie Donderdagaand sy wedvlugduiwe duiweklub toe ry soos altyd. Al skade wat ons nuutgevormde L-vormige hekkie aan die kar gemaak het was 'n vaal, wit strepie op die chrome bumper se rubber rand en 'n plekkie waar die hek se roes verf 'n rooi wolkie teen die Cortina se hemelblou geskuur het. Voorwaar 'n taai kar. 

"Ry maar stadig, ou seun," het my pa daarna gewaarsku. "As jy te vinnig by die erf inkom en jy briek nie gou genoeg nie, ry jy dwarsdeur die huis en gaan staan eers voor die duiwehokke in die agterplaas. Ry maar met die handbriek so halfpad op as jy haastig raak."

Dit is ook hy wat die aand voor ek en my vrou se troue vir my gesê het: "'n Mens moet maar in die huwelik uithou en aanhou. Die eerste paar jare is wonderlik. Elke poep ruik na laventel. Maar dis eers as jy saam 'n paar sakke sout geëet het dat jy weet jy is reg vir die saak."

Ek dink vanaand aan die Cortina en my pa se woorde omdat ek en my vrou môre ons tien jaar huweliksherdenking vier. Sy het nooit die Cortina gesien of beleef nie, maar die taaiheid van die huwelik laat my aan die taaiheid van daardie kar dink. Beide is soos 'n stuk biltong wat te droog* geraak het. 'n Mens moet hard werk om hom sag genoeg te kry sodat dit geniet kan word. En tog lê die lekkerte juis in die taaiheid. Daar is 'n onderliggende sekerheid en sekuriteit in iets wat taai en knaend en aanhoudend is. Iets wat nie sommer opgee as dit moeilik raak nie. Iets wat taaier as taai omstandighede is.

Partykeer, as mens biltong eet, byt jy 'n soutklont of 'n koljanderpit in 'n vou raak wat jou eers kraan toe jaag voor jou lippe begin bars. Maar dan gaan jy weer aan. Partykeer vat dit 'n hele middag om deur 'n sening te kou, maar opgee sal jy nie, want daar is nog 'n vleisie wat iewers vassit. Dan, as jy gelukkig is en jy kon jou stukkie biltong reg kies, kry jy dalk 'n veseldraadjie raak gebyt wat net mooi gelyk af trek sonder om jou tande te herrangskik. En 'n mens is dankbaar daarvoor. As jy regtig gelukkig is kan jy dalk 'n stukkie met geelvet aan kry...

Ek wonder soms of dinge deesdae te maklik geraak het. 'n Mens kan kies hoe sag jy jou biltong wil hê, hoe dik dit gekerf moet word, en hoe baie of min geelvet aan moet wees. En soms kan jy nog verskillende speserye en geure ook aanvra. As 'n motor breek of dalk net te oud word is dit baie maklik om hom te verkoop of in te ruil vir 'n nuwer model. Huurkoop-skemas hou jou in die nuutste, beste, mooiste, skoonste ryding sonder enige moeite of kosbare herinneringe van die verre verlede.

Teen die regte prys, natuurlik. En 'n prys sal jy betaal, of dit nou vir 'n sappige stukkie winkelbiltong, 'n nuwe voertuig of 'n kwaaivriendskap is. Betaal sal jy betaal...

Hoe dit ookal sy, of ons huwelik soos 'n ou motor, 'n droë stuk biltong of 'n dekade-lange sout-eet kompetisie is, ek bly dankbaar vir my vrou. Ons het 'n mylpaal gehaal wat baie huwelike nie bereik nie. En ek glo ons sal ook nie hier stop nie. Daar's nog werk om te doen, kinders om groot te kry, paadjies om te ontdek,  avonture om te hê en drome om na te jaag. Soms is die kouwerk erg moeisaam, maar dit bly die moeite werd. Daar is immers meer seëninge as senings. En daarvoor is ek dankbaar.


Foto deur Hesmarie geneem op ons troudag.

*Ja, ek weet jy wonder hoe 'n mens biltong te droog kan laat word. By ons is die biltong in die garage se dak opgehang en die stukke het gewoonlik begin minder raak sodra hulle ophou drup het. Die Karoo is maar 'n droë plek.

Comments

Popular Posts