Die dag toe die ligte af gaan

Ek en my goeie vriend Willem het mekaar in Sub-A ontmoet. Op een of ander manier is ons tot langs mekaar in daardie ou, hout dubbelskoolbanke geskuif. Hy het 'n skerpmaker gehad wat my oog gevang het. Dit was in die vorm van 'n rolskaats met 'n gaatjie in die haak waar jy die potlood kon indruk om dit skerp te maak. Die wieletjies onder die sole het gerol. 'n Rolskaats.

Ek wou graag met dié interessante skerpmaker speel, want my skerpmaker was maar 'n gewone Staedtler aluminium een met twee gate: een vir gewone potlode en een vir dik potlode wat niemand ooit gebruik het nie, want niemand het sulke dik potlode gehad nie. Tensy jou ma'le ryk was. Of so het ek op daardie stadium gedink.

In elk geval.

Ek en Willem het oor sy skerpmaker begin stry. Ek wou daarmee speel, hy wou sy potlood skerp maak. Op 'n kol het ek die bokant -die skoengedeelte- van die skerpmaker vasgehou en hy het die wiele vasgehou. 'n Toutrekkery het ontstaan. Meteens het ons gevoel hoe die spanning verlig word. Die skerpmaker het, onverwags, sy einde bereik. Daar sit ons toe: Willem met die wieletjies in sy hand en ek met 'n klein plastiek tekkie in myne.

So het ons beste vriende geword en het ons deur die jare baie interessante dinge gesien en gedoen. Nie alles was goed nie, maar alles was definitief nie sleg nie. Soos die dag toe die ligte afgegaan het.

Ek, Willem, Albert (Willem se ouer broer) en Prof was soos Die Vier Musketiers. Omdat Albert in Januarie verjaar het hy eerste sy lisensie in ons Matriekjaar gekry. Die res van ons kon sodoende wettiglik met ons leerling-bestuurlisensies die wêreld (of eintlik net die dorp, wat soos ons wêreld gevoel het) rondry. Prof het by 'n nooi in Schneiderstraat gekuier en ons het, omdat ons onafskeidbaar was, altyd saam gaan kuier. Omtrent so romanties soos 'n halwe herfsblaar. Die blou Mini was ons koets.

Een Vrydagaand, terwyl ons video by Prof se nooi se huis gekyk het, het ons Coca Cola opgeraak. Ek kan nie onthou wat ons gekyk het nie, maar dit kon seker nie te aangrypend wees nie, want ek en Willem het vinnig as vrywilligers ingestaan om by oom Johnny se kafee te gaan Coke koop, voor hy toe maak. Die blou Mini is opgesaal en so is ons pad af dorp toe. Net betyds.

Met die terugkomslag, nes ons bo by Murraystraat in gedraai het en begin spoed vang het, het die Mini se hoofligte ewe skielik doodgegaan. Die straatligte was in elk geval nie watwonders nie, so ons is met 'n groot skok in donkerte gedompel; ek met 'n 2-liter Coke op my skoot, Willem agter die stokke. Ons het nogal geskrik. Willem het mooi kalm gebly en die Mini in die pad gehou tot die ligte weer vanself aangekom het en ons kon sien waarheen ons oppad was. Dit was maar 'n oomblik wat soos 'n ewigheid gevoel het. Onsekerheid en donkerte doen dit mos aan hoe ons tyd waarneem.

Ons het later uitgevind dat daar 'n probleem met die Mini se bedrading was. Maar vir daardie oomblikke in 'n vinnig-bewegende voertuig, in donkerte omhul, was ons lewens regtig in gevaar. Ons het nie so op daardie stadium gedink nie. Die jeuglike brein het nie veel daarvan gemaak nie en ons kon lekker lag toe ons die storie met groot smaak oorvertel het.

Dis nogal snaaks om daaraan terug te dink, want 'n mens weet nie altyd hoe dapper jy in 'n gegewe oomblik is nie. Dis baie male eers wanneer jy stil raak en terugdink dat jy besef hoe dapper jy eintlik was. Al het dit nie toe so gevoel nie.

Al voel dit ook nie nou so nie.


Comments

Popular Posts