Die kraaines en die Barmhartige Samaritaan
Ons het nie lank gewag om lyne nat te maak na ons tent opgeslaan het nie. Daar's nie 'n miljoen myl tussen Piketberg se rugbyveld (meer daaroor hier) en Dwarskersbos se karavaanpark nie. Of ten minste nie op die pad wat ons gevat het nie. Ons is sommer vlugtig af strand toe om die waters en ons vernuf te toets met die woorde "Vanaand braai ons vars vis!" as mantra.
Fourie was die enigste een van ons wat 'n regte see visstok gehad het. Ek en Willie het met koffiemeul katrolle en kort stokke probeer regkom, maar Fourie het 'n vriend se see katrol en 'n lewenslange visstok ingepak. Hy het ook eerste gegooi omdat hy eerste aas aan die hoek kon kry.
Ongelukkig, met sy eerste gooi, het sy fênsie katrol ontplof. Geen skrapnel of harde klapgeluide nie, net 'n baba wolkie van vislyn en verlore drome wat om sy katrol verskyn het. Kraaines. Ek en Willie het maar gegiggel omdat ons self seker nie beter sou doen met so 'n grênne katrol nie, en eerder ons koffiemeul katrolle laat sing. Fourie se aand was verby wat hengelary betref het. Ek en Willie het ook niks gevang nie.
Noodgedwonge sjirurgie is op die katrol uitgevoer, maar met gemengde sukses. As ek reg onthou het die katrol sy oorspronklike klank en 'n paar ratjies verloor, maar Fourie sal beter weet. Ek het liewers nie probeer help nie, want ons moes vuur maak om ons gaste te verwelkom (meer dáároor hier).
Die volgende oggend is ons weer viswaters toe. Die hele strand was, soos die vorige aand, stil. G'n mens in sig nie. Ons het 'n vaal kol so 'n entjie van die strand af gesien en besluit dat dít die plek sou wees waar die visse lê en wag. Die troebel water op daardie spesifieke kol sal mos help, dan nie? So het ons begin ingooi. Amper halflyf in die water in, visstok bo die kop, net om die sinker, hoek en aas so na as moontlik aan daardie kol te laat val.
Na omtrent 'n uur se hengel het ons 'n wit Bantam bakkie so 100 meter van ons af sien stop. 'n Korterige man het uitgeklim, 'n visstok van sy dak af losgemaak, aas, hoek en sinker vasgemaak en ingegooi. Dit alles in die tyd wat dit ons gevat het om van Willie se bakkie af tot by die water te stap. Hy was duidelik 'n local. Wat meer is, hy het sommer daar van langs sy bakkie af ('n goeie 30 meter van die water af) ingegooi, en twee keer verder as ons vaal kol gegooi. Ons was goed beïndruk.
Dit was nie lank daarna nie toe ons sien dat sy visstok, in 'n wit PVC-pyp staander vasgemaak, see toe sak. Iets het gebyt. Hy het rustig sy koerant neergesit, uit sy bakkie geklim en met die beste visserman aksie wat ek nog in my lewe gesien het 'n vis ingekatrol. Dit was so 'n ligte oranjerige pienkerige vis. Ek onthou die kleur want hy trek hom toe mooitjies nader na ons toe om te kom wys.
"Dagsê kêrels! Ek kom wys gou vir julle hoe hierdie olifant vis lyk en dat julle moet versigtig wees vir daardie pen op sy rug. As hy jou steek hou jy nie maklik op bloei nie. Ek sien julle manne is nie van hier rond nie, so ek dog ek kom sê maar." En met dié haal hy die hoek uit die vis se bek en laat hom in die vlakwater weg swem. Ons was verstom om verskeie redes: hoe het hy geweet ons is nie locals nie, en hoekom laat hy die vis los? Dis mos kos!
Hy verduidelik toe dat hy kon sien ons is nie inwoners nie oor waar ons ingooi. Die vaal kol, wat ons as troebel water ge-eien het, is toe al die pad 'n sandbank. Vlak water. Vlakker as die water tot waar ons ingestap het om in te gooi. Die vis het hy gelos omdat dit nie eintlik 'n eetbare vis is nie, al het hy 'n slurpie voor sy bek.
Stert tussen die bene het ons maar aangestap na 'n nuwe plek toe. Maar nie voor Fourie 'n vraag oor sy see katrol en waar om dit te laat reg maak ingekry het nie. Hy het vinnig na die katrol gekyk en om 'n lang storie kort te maak, hy het daardie aand by ons kampplek kom braai.
Gawe man, Weskus-mens, sout van die aarde. Ons het lekker gekuier, gesels oor aas, oor visvang en oor die lewe. Hy het Fourie se katrol daardie aand huis toe gevat, en sy eie, waardevolle katrol as versekering gelos. Hy wou probeer om Fourie se katrol tot sy volle glorie te herstel.
Die volgende oggend vroeg, kort na ons met slaperige oë ons neuse by die tent uitgesteek het om koffiewater te kook, het die wit Bantam bakkie by ons kamp kom stilhou. Hy het met groot vreugde 'n koppie koffie aanvaar en verduidelik hoe hy die katrol herstel het en dat hy nou weer mooi sal loop. Fourie was in die sewende hemel. Dankbaar verby.
Hy het sy koffie klaar gedrink, in sy bakkie geklim met 'n laaste stukkie raad en 'n glimlag in sy groet en is daar weg. Seker werk toe. En die gedagte het by my opgeskiet: die ding van Barmhartige
Samaritane is dat hulle orals is, en dat mens hulle nie altyd as sulks herken nie. En hulle dade spreek hard wanneer woorde nie kan help nie.

Comments
Post a Comment