'n Moeisame Reklame Veldtog
Ek het eintlik goeie vriende. Nog my hele lewe lank. Ek skat ek is een van daardie bevoorregde mense wat, oor die algemeen, die regte mense op die regte tye ontmoet. Mens kan dit 'n seëning noem. En soms 'n sening?
Deur die jare het ek geleer dat daar nie baie beter aanduidings van vriendskap is as moeite nie. As iemand vir jou moeite doen beteken dit daardie persoon (of persone) dink ten minste aan jou. Soos my goeie vriende Frederik* en Bertus* se moeite met 'n ongevraagde reklame veldtog.
Die storie speel af in my tweede finalejaar, dink ek. Fisiologie 378 was moeilik en ek moes dit twee keer doen. Ek, Frederik* en Bertus* het mekaar vroeg in my tyd op Matieland deur 'n bediening van Studentekerk ontmoet en 'n diepe vriendskap het voortgespruit. Ek dink daar was waarskynlik rooiwyn betrokke, want die Universiteit van Stellenbosch lê immers in die hartjie van die Wynland. En al was dit nie so nie sou ons seker Wynland toe gery het, want *Bertus het 'n dubbelkajuit Isuzu bakkie gehad. 'n Maroen een.
In elk geval.
Ek staan een oggend op om 'n mondeling by die Fisiologie Departement te gaan doen. In daardie dae het ek in 'n buitekamer agter die Dekaan van Teologie se garage gewoon. Toe ek by my deur uitstap, kyk in 'n swart-en-wit A4 plakaat teen die oorkantste muur vas. Ek was verbaas, om die minste te sê, want dit raak toe duidelik dat iemand geweet het waarheen ek daardie oggend oppad was. Dit was 'n reklame veldtog van die swakste gehalte, maar so treffend soos 'n yskoue stort wanneer jy warm water verwag.
Dit was 'n foto van my met 'n snor en 'n visstok (op 'n Weskus hengeltoer saam met Frederik* en Bertus* geneem), asook verdere inligting:
"Loop jou rieme styf. Kom luister na Nico Marais se praatjie oor erektiele disfunksie by die Fisiologie Departement, vandag om 10:00. Moet dit nie misloop nie! Hy weet waarvan hy praat." Of so iets.
Hoewel die tema van my mondeling korrek was (te danke aan die module oor menslike voortplanting wat die grootste deel van Fisiologie 378 daardie semester uitgemaak het), sou ek verkies het om so 'n onderwerp stil-stil agter die rug te kry. Ek is mos skaam. Klein, fyn en teruggetrokke... Maar die plakaat het my nie baie gepla nie. Of nog nie op daardie stadium nie. Wie dit ookal daar kom plak het wou my seker net aanmoedig.
Op my roete klas toe het ek, helaas, meer en meer van die plakate raakgeloop. Daar was baie. Eintlik 'n indrukwekkende groot verskydenheid. Dis asof daar eindelose kreatiwiteit en energie in die produksie en verspreiding van hierdie plakate gesit is. Moeite. Sulke toewyding loop jy nie aldag raak nie! My vriende het al hulle universiteits-drukker krediete gebruik om die plakate te maak om sodoende 'n paar duisend studente van my mondeling bewus te maak. Die woorde "No publicity is bad publicity," het deur my gedagtes gedraai.
Sommige plakate het my (met snor, Teardrop Rayban nabootsings, visstok en al) as die ideale huisdans metgesel voorgehou. "Aansoeke moet aan Tannie Z by die kerkkantoor gerig word, asseblief." Ander het my praatjie vanuit 'n ander hoek met ander fotos geadverteer. Dit was orals: teen elke eikeboom in Victoriastraat, reg oor die Rooiplein, selfs op die deur van die Fisiologie Departement. Op elke pilaar was 'n herinnering dat ek vriende het wat bereid is om moeite te maak... Ek was boos. Hoendervleis van bemoerdgeit, soos Tolla dit beskryf. Deels van vernedering, deels van senuwees dat iemand werklik vir die praatjie sou opdaag. Of nog erger: dat iemand by Tannie Z in die kerkkantoor 'n aansoekbrief sou aflewer net om uit te vind dat die snor weg is.
Dit het gelukkig nie so gebeur nie. Net my klasmaats en dosente het na my praatjie kom luister. *Frederik en *Bertus het nie eers opgedaag nie. Ook maar goed so, want ek sou seker vloek. Tannie Z by die kerkkantoor het ook geen aansoekvorms ontvang nie, wat, om die waarheid te sê, 'n bietjie van 'n krenk in my ego gelaat het
. Dit was immers 'n mooi foto met 'n relatief goeie snor vir 'n student.
Weke later, terwyl ek, *Frederik en *Bertus in die Neelsie sit en middagete eet, het 'n gemeenskaplike vriendin van ons in die verbygaan genoem dat ek moet moed hou. Blykbaar was van die plakate nog steeds agter toiletdeure in sommige dameskoshuise opgeplak. 'n Mens weet nooit...
Soos die spreekwoord sê: Die wiel draai. Ja. En soms draai die wiel reg bo-oor 'n mens. Maar as jy gelukkig is, soos ek, sal jy altyd mense hê wat vir jou moeite maak. En wat die moeite werd is.
*Frederik en *Bertus is skuilname, want, soos enige goeie vriend, wil ek nie vir Fourie en Willie moeite veroorsaak nie.

Comments
Post a Comment