Die Weskus-nooi met die sterk greep

Ek, Willie en Fourie het in 2004 besluit om 'n hengeltoer langs die Weskus op in ons wintervakansie te doen. Om een of ander rede het ons besluit dat ons die gebeurtenis moet merk deur ons snorre te laat blom. Vandaar die naam Weskus Snortoer 2004 - Dwarskersbos tot Port Nolloth solank die brandewyn hou.

Ons het byname uitgedink - ek was Liedjieman, Fourie was Storieman en Willie was die Nutsman -elkeen volgens ons onderskeie gawes en talente. Visstokke is geleen, hoedjies is laat maak en borduur, en T-hemde is geproduseer (danksy Mr Price en 'n vriendin se vernuf met 'n verfkwas). Willie se ma het vir ons gevriesde skaaptjoppies en tuisgemaakte appelkooskonfyt vanaf hulle Karooplaas gestuur. Ons was gereed.

Fourie moes nog die Sondagoggend voor ons toer by sy tuisgemeente preek. As teologie-student aan die Universiteit van Stellenbosch moes hy darem respektabel lyk, so hy het eers na middagete op Prince Alfred Hamlet sy baard geskeer om sy snor agter te laat. Ek en Willie moes dit doen voor ons uit Stellenbosch weg is, so ons het soos besnorde katte uit 'n 80's sepie die erediens bygewoon. Min gepla, want ons is immers Maties op 'n missie. Daardie Sondagmiddag het ons met koelbokse, visstokke, tent en al die pad Dwarskersbos toe aangepak; reg vir die groot vangste.

Op Dwarskersbos het ons ons tent in die karavaanpark langs die strand gaan opslaan. Daar was mense wat 'n rustige Sondagmiddag braai/kuier geniet het. Nuuskierig oor ons T-hemde het hulle ons nader geroep om uit te vind wat ons daar doen en hoekom ons so snaaks lyk. Ons het, redelik grootpraterig, verduidelik dat ons studente op Stellenbosch is wat wil kom visvang. Hulle het ons arrogansie met beleefdheid verdra. Dit was egter nie ons enigste interaksie met die plaaslike inwoners vir daardie dag nie.

'n Vriend van my was toevallig in die omgewing vir werk en het besluit om vinnig te kom groet. Hy, sy nooi en 'n meisie wat hulle daar ontmoet het, het by ons aangesluit vir die aand se braai. Ons het ons drankies mooi volgens 'n student se begroting gerantsoeneer: een sopie brandewyn elk per aand en dalk 'n bier om ons vangste te vier. So om gaste op ons eerste aand in die Weskus te ontvang het ons gedwing om ons planne aan te pas. Geen probleem. My vriend het sy eie drinkgoed vir hom en sy nooi gebring, en hoe baie kan 'n meisie (ons noem haar Susan, want ek kan nie haar naam onthou nie) nou drink as sy by onbekendes kuier?

Baie. Die antwoord is baie. Meer as wat ons ooit kon raai. Sy was so tuis dat sy later haar eie dop begin gooi het omdat ons so lank vat om ons eie bekers leeg te maak. Dis 'n tipe gemak by onbekende mense wat ek tot op daardie stadium nog nie teëgekom het nie. Nie eers in Matieland nie. Veral nie in Matieland nie.

Toe die vleis gebraai is en die potbrood gebak is was dit tyd om te eet. Die botter en konfyt is uit die koelboks gehaal en nog 'n sopie is gegooi om saam met aandete te geniet. Ek dink ek het toe al oorgeslaan na bier, want Coke is sleg vir 'n mens...

In elk geval. Willie wou konfyt op sy vars broodjie smeer, maar sukkel toe om die konfytpotjie oop te kry. Hier moet jy onthou dat Willie se ma 'n boervrou is, m.a.w. as sy 'n konfytpotjie toe draai is hy GOED toegedraai. Willie het die potjie vir my aangegee sodat ek kan probeer, maar ek het geweet dat as Willie so sukkel sou ek nog meer sukkel. En so gee ek die potjie vir Fourie, wat net so sukkel. Die dekseltjie wil eenvoudig net nie oopdraai nie.

Net toe ons begin dink om vanaand ons brood net met botter te geniet, vat Susan die potjie by Fourie en draai hom oop asof dit niks is nie, en gooi vir haar nog 'n dop. Verslae staan ek, Willie en Fourie en kyk na die oop konfytpot op die klein kamptafeltjie. Dit was 'n interessante oomblik. Een van daardie oomblikke wat jou nederig maak; wat jou terugbring aarde toe; wat jou oë oopmaak. 'n Openbaring as sulks. Die vars brood met botter en konfyt was darem lekker.

Tot vandag toe het ek die grootste waardering vir wat Susan my op 'n Sondagaand in Dwarskersbos geleer het. Dis 'n les wat ek nog steeds sukkel om in die praktyk uit te leef. Dis die les dat ons almal net mense is. Dat niemand eintlik beter as enigiemand anders is nie. En dat ons maar met gemak onsself by onbekendes - nee, toekomstige vriende - kan wees. Wie wil ons dan nou anders wees? En wie is ek om te oordeel?

Comments

Popular Posts