Die Rooi Onderbroek
![](https://blogger.googleusercontent.com/img/b/R29vZ2xl/AVvXsEi4ohYTmakp0x4fWwvng63jIAuJ8wZd4Viqvfa2laWTSsKkmachUThQs_8ZH-HqOgw_vpg7JcWveikO24AfklXSdqcEPkwTutsUaBc_nqszlcZA6J1PpDPinFjSbOtjjVwVgkRz_2J3c2Z5/s320/red-and-orange-solar-flare-73873.jpg)
Die mans se slaapkamers was op die 1ste verdieping (of is dit 2de? Dit was die een net bo die grondvloer) en die "lesingsaal" was die gemeenskaplike sitkamer-area op die grondvloer van die koshuis waar ons gebly het. Ons badkamers was af in die gang. Die eetsaal was in dieselfde vertrek as die lesing-/sitkamersaal, maar kon met afskortings afgeskort word. Die waskamer was in daardie dae in 'n buitekamer agter die gebou, maar dit kons seker al verander het. Om klere te was moes jy met jou wasgoedsak deur die lesing-/sitkamer-/eetsaal stap tot waar die wasmasjiene in 'n ry gestaan het. My wasgoedsak was van grys fluweelagtige materiaal gemaak, met 'n rooi koord om sy bek bo toe te trek. My ma het dit gemaak voor ek Wellington toe is vir opleiding.
Ek was gewoonlik, soos Tolla destyds beskryf het, "vanuit die agterste gestoeltes," maar om een of ander rede het ek besluit om op daardie spesifieke dag heel voor te gaan sit tydens ons oggend afkondigings. Dalk was dit omdat ek 'n bietjie olik gevoel het. Dalk vir 'n bietjie verandering. Wie weet? Dit was net na ontbyt.
*Sarel, een van ons leiers, het opgestaan om 'n paar afkondiginge te doen en die ooglopend relevante kwessie van netheid aan te spreek. Die lesing-/sitkamer-/eetsaal het gelyk asof iemand se wasgoedsak oppad waskamer toe ontplof het. Daar was sweetpakbaadjies, warm truie, leë koffie koppies, notaboeke en Bybels wat die vertrek volgelê het. Die punt van sy toespraak was dat ons die plek wou netjies hou vir wanneer gassprekers ons kom toespreek. Dit skep mos 'n slegte indruk.
Om sy punt te benadruk begin hy toe kledingstukke optel en vra wie s'n dit is. 'n Blossende skynsel moes seker sy oog vang, want hy tel toe 'n wynrooi onderbroek op en vra wie s'n dít kan wees. En ek, vanuit die voorste gestoeltes, wie se oë nie sommer goed van so naby af mis kyk nie, sê toe hardop dat daar 'n naamplaatjie in die rek is. Ek het geweet dis 'n naamplaatjie, want dit was presies dieselfde soort naamplaatjies wat my eie ma gebruik het om my eie onderbroeke te merk...
In daardie oomblik wens ek toe dat my ma vir my eie bek 'n rooi koord ingewerk het. Dis asof tyd stil staan. Alles raak duidelik. Soos 'n bloedrooi slow motion ontploffing, sonder klank. Die wêreld maak ewe skielik op die mees skrikwekkendste manier sin terwyl ek besef wie se naam op daardie naamplaatjie is. Dis my eie rooi onderbroek wat uit my eie grys wasgoedsak geval het.
En dis toe natuurlik my naam wat *Sarel hardop lees. Ek dink nie ek het 52 jongmense in my hele lewe so hard hoor lag nie. Nie voor daardie noodlottige oomblik nie, en definitief nie sedertdien nie. Dit was chaos. En ek kon nie dieper in my stoel wegsak nie. Ek vermoed my gesig was rooier as my ontie. Ten minste was die ontie skoon, so hy moes uitgeval het oppad vanaf die waskamer af en gelukkig nie oppad soontoe nie. Always look on the bright side...
Ek het die res van daardie dag se lesings misgeloop omdat ek siek was. Koorsig. In die diepte van my donkerste nag tot op daardie oomblik het ek na my Bybel gedraai. Klaagliedere. Natuurlik moet die Klaagliedere wees. Kan dit enigiets anders onder sulke omstandighede
wees? En daar het my oë op hoofstuk 3 se verse 21-23 geval:
"Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot."
Nou ja. Sedert daardie noodlottige dag was ek al baie sieker. Ek is al erger as dit verneder. Baie erger. Ek was al meer skuldig van hoogmoed en trots. My lewe het al snaakse, onverwagte draaie gemaak, maar hierdie verse bly my by. En ek vermoed dit sal my by-bly solank as wat daar nuwe môrens is.
Mag jy ook elke môre opnuut bewus word van God se groot liefde en ontferming.
* Sarel is 'n skuilnaam, want ek wil nie in die openbaar verkondig wie (behalwe my ma) aan my onderklere gevat het nie...
Comments
Post a Comment