Die eerste sinker
![](https://blogger.googleusercontent.com/img/b/R29vZ2xl/AVvXsEh0NW-6mjoee8H6hdXnSuhOt_O1l5-97Gasb2y6zg_fi3JlOKF9efuLSgNZ6J-zGL2BSC2q3SKrL9pvQkLxTrJMKFxDQz1JMzeBEPveclibG76yXFdjC3OScmc43kWJ_R22MogiVNm5rwIi/s320/IMG_2439.jpg)
Op die pad het iemand die blink idee gekry om eers ons hengelvaardighede te toets alvorens ons by die viswaters dalk naam weggooi. Piketberg was die ooglopende keuse, want dit was die agtergrond vir een van Storieman (Fourie) se uitstekend vertellinge. "Swak, Piketberg..."
Gelukkig is dit nie 'n baie groot dorpie nie, so ons kon die rugbyveld vinnig genoeg kry, visstokke aflaai en begin sinkers vasmaak. Dít was 'n vuurdoop op sy eie. My dom kitaar-vingers het nie lekker geweet hoe om die lyn reg te knoop nie, so ek moes noodgedwonge my eie kop volg. 'n Oom in Saldanha het op 'n keer gesien hoe ek 'n bannier se tou om 'n pilaar probeer vasmaak en droogweg gesê, "Ek sien jy knoop nie die tou vas nie, jy brei hom vas." Dit is 'n raak beskrywing vir hoe ek my sinker aan die vislyn op Piketberg se rugbyveld vasgekry het.
In elk geval.
Na ons sinkers vas gebrei (of gehekel) is kon ons begin oefen. Nie een van ons het werklik geweet hoe sterk ons is nie. Hoe moes ons nou weet waar om te staan om te verseker dat onskuldige bystanders nie beseer word nie? As ek reg onthou was daar 'n paar kinders wat wou kom bal skop, maar hulle is gelukkig vinnig daar weg. Ook maar goed so.
Die halflyn is waar rugbywedstryde afskop, so dis waar ons sou begin gooi. Nutsman het eerste gegooi, want sy 25g sinker was eerste vas. Mooi gewrig aksie. Sterk slinger. Die katrol sing ZZZZZZZZzzzzzzzzz. En in daardie oomblik het dit gevoel of ons weet wat ons doen. As 'n mens 'n hengeltoer met so 'n oefengooi begin, kan dit net goed gaan! Ons was naturals! En so val die sinker kort duskant die tien meter stippellyn met 'n dowwe plof en 'n mini stofwolkie om die plek te merk. Dit was seker 'n droë jaar, in die middel van die winter.
Hoewel Nutsman meer as genoeg afstand gekry het, was dit ongelukkig in die verkeerde rigting. Die sinker het meer opwaarts as voorwaarts getrek. Dit was eintlik 'n gelukskoot dat niemand raak gegooi s nie. Hoe verduidelik jy dít aan 'n dokter in Piketberg se ongevalle eenheid op 'n Sondagmiddag?
Ons het gelag (meer van skaamte as van humor), rondgeloer om te sien of die kinders al weg is (hulle was), en weer probeer. Ek het ook die tien meter stippellyn gehaal, maar met minder hoogte op my sinker. Dit natuurlik na ek 'n paar keer vergeet het om die katrol se slot oop te los wanneer ek gooi. Storieman het die kwartlyn gehaal en ingekatrol dat die sinker stofstrepe op die veld agterlos; klaarblyklik die beste hengelaar op ons span. Tot Nutsman sy troefkaart gespeel het.
Weer hoor ons die ZZZZZZZZzzzzzzzzz-geluid van 'n ywerige katrol wat by die vlieënde sinker aan die punt van sy vislyn probeer byhou. Ons oë skiet outomaties, koes-koes, na bo, maar die swart spikkeltjie trek verder vorentoe as voorheen. En hy trek. En hy trek. En hy trek. Doellyn toe. Soos Pieter Hendriks in die openingswedstryd teen Australië in die 1995 Rugby Wêreldbeker. Dit was net so mooi.
Net regs van die regter regop-paal sien ons 'n stofwolkie uit die gras opspriet. Vir 'n salige oomblik hang die wolkie in die lug terwyl ons in verwondering net staan en die oomblik indrink. Sukses vir een van ons beteken sukses vir almal van ons. Dis mos hoe vriendskap en familie werk, dan nie?
Nutsman begin toe die sinker terug katrol, maar, seker omdat die sinker so diep in die stof geval het, breek die lyn. Geen probleem. Ons stap nader om te sien watse krater 'n 25g sinker op 'n rugbyveld los, maar ons kry niks. Die sinker het spoorloos verdwyn. Ons het nog gesoek, maar moes na 'n rukkie tou op gooi om op te pak, in te laai en verder Dwarskersbos toe te ry voor die son sak.
So het ons ons eerste sinker van die hengeltoer op Piketberg se rugbyveld verloor. En iemand gaan (as hulle nie reeds het nie) meer as net vyf punte kry wanneer hulle net regs van die regter regop-paal oorduik vir 'n drie.
Comments
Post a Comment