Die dominee, die sendeling en die 'relish'
Die toer het op 'n interessante manier begin. 'n Week voor ons vertrekdatum moes ons begin om anti-malaria medisyne te drink. Daar is ooreengestem dat ons as span elke Vrydagaand om 19:00 vir sewe weke 'n pilletjie per week sou drink om seker te maak dat almal hul weeklikse medikasie inkry. 'n Vriendin van my het egter die boodskap mis verstaan en het elke aand 19:00, van Vrydag af, haar pilletjies gedrink; een pilletjie elke dag i.p.v. elke week. Sy het haar sewe-week voorraad in 'n week klaar gemaak en was so siek teen die tyd wat ons moes vertrek dat sy nie kon saam gaan nie. Ons het 'n bietjie daaroor gegiggel, maar net omdat ons geweet het sy sou volkome herstel. So het ons in die pad geval om die 2500 km reis Mosambiek toe te begin.
Ons het lank gery. Ek was gelukkig om op daardie toer een van die aangewese bestuurders te wees. Dit was onbeskryflik lekker om op 'n waardige missie te wees met 'n bakkie as strydperd en uitstekende geselskap op die tweerigting radios. Uiteindelik, na dae se ry, het ons by 'n klein dorpie aangekom, tente opgeslaan en die nuwe omgewing verken. Jy moet weet dat wanneer ek die woord 'dorpie' gebruik, dit uit noodsaak is omdat dit die naaste woord in Afrikaans is wat die konglomeraat van klei hutte met grasdakke kan beskryf. Gehuggie kan dalk ook werk. Geen winkels of strate nie. Ook nie 'n druppel muurverf nie. Net die ronde kleihutte met grasdakke wat in die ooptes tussen die bome en bosse verskyn. Dis 'n pragtige, rou, reine, stowwerige wêreld.
Oppad soontoe het ons by 'n sendingstasie aangeklop waar 'n sendeling en sy gesin, asook 'n tolk en sy gesin by ons span aangesluit het. Een van die redes vir ons besoek was om die Jesus-film -in Chichewa vertaal- te wys en om sodoende die goeie nuus van Christus te verkondig. As sulks het vier van ons (ek, die dominee, die sendeling en die tolk) een aand na 'n nabygeleë dorpie gegaan om dieselfde te doen, terwyl die res van die span by ons kampplek ontspan.
Die mense in Mosambiek is uiters gasvry; selfs te midde van oënskynlike armoede. Wat hulle dalk in materiële waarde sou kortkom (in vergelyking met ontwikkelde lande) maak hulle meer as dubbeld op in gasvryheid en vriendelikheid. Dis hoekom daar 'n spesiale gereg vir die spesiale gaste op 'n spesiale aand voorberei is toe ons viermanskap by die nabygeleë gehuggie opgedaag het. Chima is 'n stywerige tipe mieliepap wat die plaaslike stapelvoedsel is. Ons het al aan die soutlose pap-dis gewoond geraak, maar wat spesiaal was aan hierdie aand was wat daarmee saam voorgesit is. Dit was 'n tipe souserigheid wat ons tolk as 'n 'relish' beskryf het. Ons het vermoed dat dit opgekookte bok-binnegoed was, maar dit kon ook opgekookte plantwortels wees. Ons kon nie met sekerheid sê nie, want dit was al donker toe ons moes aansit. Die onsekerheid van wat sou volg was dalk groter in ons gedagtes as in die werklikheid.
'n Skare mense het om ons saamgedrom om die gaste te verwelkom en om ons -die vreemdes- dop te hou terwyl ons eet. Omdat daar 'n sendeling en 'n dominee in ons geledere was het die tolk gevra of een van hulle die tafelgebed (sonder 'n tafel in sig) sou doen. Ds. Hercie het aangebied, mits hy in Afrikaans kon bid sodat die tolk nie kon vertolk nie. Ons het rondom die skinkborde met die onbekende disse gekniel. Hy bid toe: "Here, dankie vir hierdie kos. Ons sal dit sluk, hou U dit onder. Amen."
Die toeskouers kon nie verstaan hoekom die drie vreemdelinge na 'n tafelgebed lag nie, maar het dit terdeë geniet toe die laaste van die relish met 'n stukkie chima opgeskep is. Die 'relish' het 'n souterige smaak gehad wat die lawwe pap 'n bietjie geur gegee het. Die gaste se mae was vol en die film kon begin.
Ek dink deesdae gereeld aan daardie aand en aan daardie tafelgebed. Dit is uiteraard al wat ek nou kan bid.
Comments
Post a Comment