As Die Wind Waai

Die vlieër wat kersregop en trots in die lug gewaai het moes seker 'n waarskuwing wees.  Ongelukkig was die giggelpienk en naartjie-oranje speelding teen die donkergrys van die wolke nie op my radar toe ek by die voordeur uitgeglip het nie. Ek was laat vir 'n ete-afspraak en ek moes nog my fiets se wiele pomp voor ek kon ry. Ek was banger vir laat wees as vir 'n ligte briesie.

Omtrent halfpad dorp toe, met die bont vlieër ver en vergete agter my, het ek verwonderd gedink aan die verskil wat stywe wiele maak. 'n Mens ry so maklik en vinnig. Moeiteloos. Dit was eers toe ek om 'n draai ry en die 'ligte briesie' van die kant af voel druk dat die besef my soos 'n ton bakstene tref. Dit was nie die stywe wiele wat my so maklik laat ry het nie, maar eerder die baba orkaan wat my voortgedruk het soos 'n Spaanse galjoen op pad om Suid Amerika te verower.

Kort na my oë vir die waarheid oop geforseer is en ek hulle knyp-knyp weer probeer toedruk het, het die dieper besef soos 'n Boeing op my kom land: ek moet na middagete teen die wind huis toe ry.

Nou ja. Dit was genoeg van 'n swaar landing op my gemoed dat Heathrow se brandweerwaens en nooddienste op high alert gesit is en die nuus-helikopters in die stormsterkte wind begin sirkel het. Weereens was daar iets meer dringend voor oë: 'n grommende maag en 'n horlosie wat volgens my te vinnig loop. Ek wou nie laat wees nie.

Middagete was lekker. Dalk 'n bietjie té lekker. Ek het 'n burrito met hoender, tamatierys, boontjies, guacamole en genoeg kaas om al Londen se muise vir 'n dekade te voed gehad. Die heerlike kos en uitstekende geselskap het alle gedagtes aan wind (die meteorologiese soort, nie die gastronomiese soort nie) en weerstand vir 'n uur of meer uitgestel. Met vol pense en 'n warm gemoed het ek en my vriend mekaar buite die restaurant gegroet. Min het ek geweet dat dit minute later sou voel asof dit vir die laaste keer was.

Die eerste stuk pad huiswaarts was eintlik maklik. Die hoë geboue het die wind net genoeg gekeer om 'n man met 'n vol maag en styfgepompte wiele vals hoop te gee. Langs die rivier aangekom, waar dit oop is en die wind met Lady Godiva se vryheid kon waai, was die 'ligte briesie' 'n perd van elke kleur behálwe die een waarvoor ek gehoop het.

Ek het getrap en getrap, opgestaan uit die saal uit, verder getrap, gekreun, gesteun en vorentoe gebeur. Na omtrent 40 minute se harde werk het ek vir die eerste keer my oë op skrefies teen die wind kon oopmaak. Groot was my verbasing dat ek verder windaf was as waar ek begin het.

Om een of ander rede het my horlosie se digitale nommertjies ook al hoe stadiger oor getik. Wat soos veertig minute gevoel het was eintlik net twee. Op 'n stadium, toe ek my kop in moedeloosheid teen die wind laat sak en my horlosie se ewe moedelose gesiggie sien, kon ek sweer dit was vroeër as toe ek laas gekyk het. Die wind was so sterk dat hy my saam met tyd agteruit gewaai het.

Maar huis toe moes ek gaan. Vasberade het ek weer begin trap. Voorwaarts en opwaarts. Ek het moedig op my tande gekners en tussen die omgewaaide boomstamme en vlieënde dakteëls deur gevleg. Die wind het die rivier se water so teen die een oewer vasgewaai dat die bootjies amper op hulle sye gelê het sonder om water te skep. Die oorkantste oewer was so droog, dit het gelyk asof Moses met sy staf aan daardie kant verby gestap het. Ek kon sweer ek het 'n paar agteros Israeliete om 'n draai sien glip.

Na omtrent 40 dae en 40 nagte was die einde in sig. Ons huis is aan die verste end van 'n lang, reguit straat en die wind het natuurlik reg van voor af gewaai. Dit is omtrent 400 m van die draai af tot voor my deur; wind-op is dit sewe seemyl.

Nes ek om die draai aangesukkel het en ons uitnodigende, verwelkomende voordeur net-net in die verte kon sien, het ek die veretterlike burrito boontjies in my maag voel dans. Ek verbeel my ek kon Mexikaanse musiek hoor, maar ek praat onder korreksie. Vir 'n oomblik het ek gedink die gastronomiese winde kan dalk 'n hupstootjie teen die meteorologiese winde van voor gee. Gou het ek besef dat my onderbroek nog te min gate het en daarom nog te veel weerstand sou bied. Dit sou nie werk nie. Maar hoe draai 'n mens 'n stukkende kraan toe as hy vanself begin lek het?

Die laaste honderd meter was die moeilikste. Dis ongelooflik uitdagend om regop op 'n fiets te bly met die wind wat jou terug dorp toe waai terwyl jy die saal moet gebruik om te help knyp. Daar was 'n paar geleenthede waar die wind my agteruit gewaai het terwyl die wiele steeds vorentoe gedraai het. Die swart wielstrepe lê nou nog op die pad. En daar waar die pad nie briekmerke het nie sit die briekmerke in my ontie. Mooi gebalanseerd, dink ek.

Toe ek einde ten laaste kon afklim en my fiets kon gaan bêre, het die pienk en oranje vlieër weer my oog gevang. Die wind het hom hoog in 'n boom loop vaswaai en stelselmatig aan flarde verskeur.

"Mooi so," het ek by myself gedink terwyl ek soos 'n pikkewyn knyp-knyp voordeur toe waggel. "Jy wou mos in die wind uitgaan. Dom dônner..."

Photo by Lenstravelier on Unsplash

Comments

Popular Posts