'n Kaapse Taxi
Hoe baie van my vriende het al in 'n Kaapse minibus taxi gery, wonder ek... Dis 'n belewenis. Veral as jy 16 jaar oud is, 'n verwronge beeld het van wat in taxis aangaan en 'n tikkie vryheid saam met vriende geniet.
In 1996 was ek gelukkig genoeg om die Weskaap by die Landsdiens Nasionale Kamp net buite Stellenbosch te verteenwoordig. Dit was my eerste Nasionale Kamp en my eerste keer in Stellenbosch. Jonkershoek, jou lekker ding! Dit was ook die eerste keer wat ek my eerste nooi na maande se afstand vryery weer kon sien (en soen, en stry...). Daar was nog baie ander eerstes, onder andere om in 'n Kaapse taxi te ry. Maar eers 'n bietjie agtergrond.
Die Landsdiens Nasionale Kamp is 'n wonderlike ervaring vir jong Landsdienslede wat dit kan bywoon. Jongmense van regoor Suid-Afrika kamp saam en volg 'n stampvol program van aktiwiteite en belewenisse uniek aan die provinsie en omgewing waar dit jaarliks plaasvind. Daardie jaar in Stellenbosch het ons indringer Acacia in die omliggende berge gaan uitkap, staproetes gestap, hindernisbane afgelê, Tafelberg se kabelkarretjies gery en natuurlik by die strand gaan draai. Saans is daar gesing, konsert gehou, vuur gemaak, sterre gekyk en lekker gesels en gelag.
🎶Op berge en in dale, en oral is my God...🎵
Met een van ons dag uitstappies Kaap toe was ons by die V&A Waterfront en vir 'n paar ure tussen die winkels, toeriste, straatkunstenaars en seemeeue losgelaat. Ek en my goeie vriend Coenie was in dieselfde kampgroep. My nooi was nie in daardie groep nie. Of ons het vir 'n dag of wat uitgemaak oor ons stry gekry het... ek kan nie mooi onthou nie. Hoe dit ookal sy, ek en Coenie was bymekaar en het die plek saam met twee vriendinne uit die noorde - ons noem hulle Petronella en Fransiena - verken. Dit was hulle eerste keer in die Kaap.
Op 'n stadium het een van ons viermanskap besluit dat ons alles by die Waterfront gesien het wat ons daar kon sien en dat ons graag die breër Kaap wou beleef: 'n ongepolitoerde, egte Kaapse ervaring wat nie deel van die kampprogram was nie. Ek en Coenie stel toe voor dat ons die Kaapse middestad gaan verken. Petronella en Fransiena het heelhartig ingestem. Daar was 'n taxi-rank naby, so vervoer heen en weer was beskikbaar sonder dat die kamp ooms en tannies hoef te weet.
Die taxi-manne het, soos die norm is, luidkeels elke taxi se bestemmings uit basuin:
"Meeuzenbuuuurg!"
"Sea Point, my master!"
"Bieêlviiiiillle! Bieêlville styssen!"
"Waaaaaainburg!"
"Efffloouuuuune!"
"Soutriviiiiiieeee! Soutrivieeeeeee!"
Ons het nadergestaan toe ons een hoor wat Greenmarket Square se kant toe gaan (ek het die naam een keer gehoor toe ons by my pa se neef in die Kaap gaan kuier het), ons vyftigsente betaal en ingeklim. Petronella en Fransiena het heel agter gaan sit, ek en Coenie in die ry net voor hulle, met 'n ekstra passasier of twee langs elkeen van ons. En so is ons daar weg sonder om enigiemand te sê dat ons gaan of waarheen ons gaan.
Die musiek in die taxi het gepomp! Ek onthou dit was baie hard en die volume is net laer gedraai as die kondukteur/kaartjiemeester/tesourier by die oop skuifdeur uitgehang het om bestemmings aan alle voetgangers aan te kondig. Die radio was seker op Good Hope FM ingeskakel. Dit was definitief nie Nicky van den Bergh op RSG nie... Ons het 'n paar keer deur verkeer geswenk en skielik gestop om nog passassiers in te laai met die furry dice wat heen en weer onder die truspieëltjie swaai.
🎶OOH OOH AAH AAH SEXY EYES... I'M GONNA TAKE YOU TO PARADISE...🎵
Ek het verwag dat ons dalk knap sou sit, want in Beaufort-Wes hoor mens gereeld van oorlaaide taxis wat deur die verkeerspolisie afgetrek word. Ek kon egter sien dat dit 'n onverwagte ervaring vir Petronella en Fransiena was. Hulle was stiller as gewoonlik... dalk omdat die musiek te hard was om te gesels, dalk omdat die tekort aan persoonlike ruimte te veel lug uit hul longe gepers het, dalk omdat dit 'n kultuurskok was. Wie weet? Voluit vorentoe.
🎵WHERE DID YOU COME FROM, WHERE DID YOU GO?🎶
🎶WHERE DID YOU COME FROM, COTTON EYE JOE?🎵
By Green Market Square het ons ons mede-passasiers vriendelik bedank vir ons tyd saam. 'n Mens raak mos vinnig geheg as talle mense dieselfde spasie beset en op mekaar moet skree om te gesels. Soos toeskouers by 'n rugbywedstryd: almal is op pad in dieselfde rigting. Ons het uit die minibus gesukkel en na die winkelsentrum begin stap. Dit was verseker 'n ander milieu as die toeriste-vriendelike Waterfront wat ons met soveel hoop en moed agtergelaat het. 'n Man by een van die drie groentestalletjies langs die ingang het sy produkte met oorgawe en humor bemark. Ander mense het ons snaaks aangekyk, amper asof ons verdwaalde koeie was wat per ongeluk die binnedorp ingewandel het. Ons het 'n paar draaie deur die plek geloop en weer uit gestap. Petronella en Fransiena was klaarblyklik nie baie beïndruk met die mooiste, mooiste Kaap nie...
Ons moes begin spore maak Waterfront toe, so ek en Coenie stel toe voor dat ons maar na die naaste taxi-rank moet stap om 'n geleentheid terug te kry. Petronella en Fransiena was geskok. "Hoekom moet ons 'n taxi vat? Kan ons nie maar net weer 'n shuttle bussie vat nie?" het een gevra. Ek en Coenie het na mekaar gekyk, na ons grootoog vriendinne gedraai en moes daar op die vuil sypaadjie mooitjies verduidelik dat dit 'n taxi was wat ons gebring het en dat daar nie shuttle bussies was wat ons kon terug neem nie. Ons sou weer moes taxi ry. Hulle was omtrent so beïndruk met die situasie soos 'n vegetariër wat per ongeluk by 'n slaghuis ingestap het. Een van hulle het genoem dat sy nogal gewonder het hoekom die musiek so hard in 'n shuttle bussie sou wees...
Hulle moes maar al knersende in die minibus "Wôterfraaaaaant!" toe klim. Ek en Coenie het, soos heldhaftige ridders, eerste gaan sit met 'n nooi elk op ons skote om plek te maak vir nog passasiers. Hulle was weer stiller as gewoonlik met die terugrit, maar dié keer het ek geweet dis nie as gevolg van die harde musiek nie...
🎶IF YOU WANNABE MY LOVER, YOU GOTTA GET WITH MY FRIENDS...🎵
Veilig by die Waterfront aangekom het ons uit die taxi getuimel. Petronella en Fransiena het op die naaste bankie gaan sit om asem te skep. "Julle is die tipe mense teen wie my ma my gewaarsku het..." het een van hulle glimlaggend geskerts. Daar was darem nie meer te veel kwaad in haar stem nie. Ek en Coenie het gegiggel, 'n rukkie by hulle gesit en toe vir hulle 'n frozen yogurt gaan koop om jammer te sê; dit was nie aspris nie.
Roomys is altyd 'n goeie manier om vrede te maak. Avonture is soms groter in ons koppe as wat dit in werklikheid is. En soms maak gepolitoerde valsheid 'n groter skeiding tussen mense as wat kultuur en velkleur ooit kan doen.
Comments
Post a Comment