Vinger In Die Hol

Ek het laas week 41 jaar oud geword. Of jonk. Nes jy wil. Hoe dit ookal sy, 'n mens se lyf begin met ouderdom waarskuwings gee. Amper soos die fênsie nuwe karre se waarskuwingsliggies  wat die dashboard soos 'n Krismisboom laat lyk as die waarborg tydperk einde se kant toe staan.

In elk geval.

Een van my waarskuwingsliggies was hoe maklik (of moeilik) ek piepie. In my jonger dae was daar geen probleme nie. Ek sou soggens opstaan en toilet toe gaan sonder enige kwessies, behalwe as ek aspersies of beet vir aandete gehad het. Maar dis 'n ander storie...

Mettertyd het die gemak waarmee ek soggens (en saans) kon piepie 'n bietjie verander, tot omtrent so agt maande gelede waar die piepiestraal meer onderbrekings as 'n plaaslyn in 'n donderstorm gehad het. Stop-start is 'n raak beskrywing. Rassie Erasmus sou 'n opvolg video oor skeidsregters kon uitdink, navors, opneem en op Youtube plaas voor ek soggens klaar gepiepie is.

In Suid-Afrika was die norm dat 'n man vir 'n prostaatondersoek moet gaan sodra hy 40 jaar oud word. Dis hoekom my goeie vriende Fourie en Willie my goeie gesondheid, voorspoed en 'n dokter met warm, klein hande vir my 40ste verjaarsdag toegewens het. In Engeland is die normale ouderdom vir daardie ondersoek na 50 verander, maar mense word aangemoedig om dinge te laat deurkyk as daar vroeër dalk bekommernisse opduik.

So gesê, so gedaan. Bloed- en urinetoetse is gedoen en die uitslae was baie positief. Behalwe vir 'n familiekwaal rondom nierfunksie het ek al die toetse met vlieënde vaandels geslaag. Ek het nie eers vir die toetse geleer nie. Suiker, cholesterol, PSA, HSBC, ANC, PDA, OMG, RSG, WP en nog talle ander afkortings se tellings was normaal. Die dokter voeg toe by dat dit wel wenslik sou wees om die mooi resultate (hou so vol) met 'n fisiese toets te bevestig, en verkies ek dat 'n man of 'n vrou die ondersoek doen? Nou ja. Haar vraag het my 'n bietjie onkant gevang, so ek stem toe in dat ek tevrede met enige geslag sou wees, solank die persoon se hande klein en warm is. Dis immers hoe Fourie en Willie dit sou wou hê. Sy het duidelik nie my grappie gevang nie. 'n Ongemaklike, tasbare stilte het die res van die oproep oorheers.

Ek moet nou eerlik sê dat ek op my senuwees was. My vriende in die mediese wêreld en dié wat al deur so 'n ondersoek is sal dalk lag, maar ek het geen idee gehad hoe dit werk nie. Die dokter het gesê dat ek niks ter voorbereiding hoef te doen nie. Ek het dit wel goed gedink om 'n dag of twee voor die afspraak visolie te begin drink. Jy weet... om dinge 'n bietjie gladder te laat verloop.... Visolie is mos in elk geval gesond (al is my cholesterol-vlakke uitsonderlik gemiddeld). Kan 'n mens ooit te veel Omega 3-6 vat? Jy weet nooit wat 'n goeie idee kan wees tot jy iets probeer nie, nê?

Die dag van die ondersoek breek aan. Ek stap spreekkamer toe. Dit vat my 10 minute. Ek skat dis nou een toets wat nie oor die foon gedoen kan word nie, Covid-protokol of te nie. In die wagkamer sit twee ou ooms met maskers, en 'n jong ma wat haar dogter laat kom inent. Mooi so, dink ek. Gebruik die geleenthede wat vrylik beskikbaar is. Verder hou ek myself besig met Facebook en Twitter en Instagram terwyl hulle een-vir-een die spreekkamer binnegaan en weer uitkom. Ek vermy oogkontak in geval iemand op my gesig kan sien waarvoor ek daar is.

Uiteindelik kom my naam op die e-bord met die rooi letters. Kamer 1, asseblief. Ek klop. Die dokter nooi my binne. Dis 'n man. 'n Groot man. Hy sit by sy lessenaar en kyk my vierkantig in die oë terwyl ek regop in die deur staan. Toe hy vir my die stoel wys gaan sit ek dadelik. 'n Mens stry nie met daardie grootte mense nie, behalwe as jy 5 gladde rivier klippies, 'n slingervel en die Here aan jou kant het. 

Hy vra hoe hy vandag kan help en draai na sy rekenaarskerm. Ek mompel saggies iets van my prostaat en hy bevestig wat sy rekords sê. Hy vra of ek regtig die interne toets wil laat doen, want my PSA-telling is baie laag, al is die toets nie baie betroubaar nie. Ek bly stil, een oog op die toe deur. Na 'n ongemaklike stilte stel hy voor ons doen dit. My eerste gedagte is om hom vriendelik te groet en met my dag aan te gaan, maar ek besluit om dapper te wees. Ek het nie verniet gisteraand die olie uit sardienblikkies gesuig asof dit kondensmelk is nie... Ons beur voorwaarts.

Hy verduidelik dat ek my broek tot onder my knieë moet trek en op my sy op die ondersoekbed moet gaan lê, gesig muur toe. Hy vra of ek dit al vantevore gedoen het. Nee, sê ek, dis my eerste keer. Hy verduidelik dat ek bietjie jel gaan voel en dat dit nie seer sal maak nie, dit sal dalk net 'n bietjie ongemaklik voel. Toe ek die koue jel voel tense ek op soos 'n duisendpoot wat gekielie word. My hol trek stywer toe as 'n duikboot se deur. Hy sê ek moet ontspan. Ek kan nie. Hy druk my met sy piesangtros hand op my heupe vas en ek dink by myself: dis sulke tyd. Al hoop wat ek nou het is dat die visolie sy ding doen. Om te veg of te vlug is nie meer opsies nie.

Die volgende oomblik druk hy sy vinger in. Diep in. Dit voel of hy ses-voet-enige-treë binne-in is. Kan een mens sulke lang vingers hê? Ek voel iets krap in my keel en my eerste gedagte is dat die dokter sy vingernaels moet knip. Dit voel kompleet asof hy in my blindederm rondgrawe om sy karsleutels of iets te kry. Ek wil vra of hy 'n kopliggie nodig het, dis seker donker so diep binne 'n mens, maar sy horlosie druk my lugpyp toe.

Met 'n 'pop'-geluid trek hy sy vinger uit en ek hoor net 'n rubber-handskoen wat verwoed afgetrek en in die drom gegooi word. Hy sê ek kan maar aantrek en weer kom sit; alles voel normaal. Alles... ALLES! Hy was wragtig tot waar Dr. Strauss my mangels 30 jaar gelede uitgehaal het en oral tussenin. Ek trek gedweë my broek op, maak my belt vas en gaan sit in stilte op die stoel, maar ek kry nie stil gesit nie. Dit voel of ek op 'n fisio-bal sit wat met Sunlight-seep gesmeer is. Die jel wikkel wragtig orals in en om.

Na al die uitslae verduidelik is bedank ek hom en stap uit, huis toe. Dit voel amper asof ek moet jammer sê. Soos ek stap voel dit of my boude by my bobene wil verbyloop, so glad is dit daar onder. Ek weet nie of dit is omdat ek so goed geolie is en of ek net so gou moontlik daar wou wegkom nie, maar ek is binne twee minute tuis. Ek stap in, stort en sê net saggies vir my vrou dat alles normaal is, geen probleme, ons het baie om voor dankbaar te wees. En ek stap gly-gly werk toe. Dis duidelik dat hierdie ervaring 'n herinnering gaan word wat my gaan laat wince as ek in die toekoms daaraan dink... As daar 'n volgende prostaatondersoek moet wees sal ek ook eerder baba- of olyfolie drink... dit maak dalk nie 'n verskil aan die toets nie, dit proe dalk net 'n bietjie beter.

Soos ek stap besef ek watse voorreg dit eintlik is om deur so 'n episode te kan gaan. Daar is baie mense in ons wêreld vir wie mediese hulp van enige aard nie eers 'n opsie is nie. Dis 'n aaklige newe-effek van oorvloed wat mense kieskeurig - en soms snobbish - maak. 'n Oorvloed van kos. 'n Oorvloed van geld. 'n Oorvloed van opinies. 'n Oorvloed van gesondheid.

My uitslae was goeie nuus. Ander kry dalk nie sulke goeie nuus nie. Mag ek met elke wince-herinnering onthou hoe bevoorreg ek is om te leef en die storie te kan deel.


Comments

Popular Posts