Die Boekrak

My baas is 3 jaar gelede skielik aan 'n hartaanval dood. Dit het almal onkant gevang. Hy was 'n kranige drawwer wat aan talle groot maratons deelgeneem het, gereeld geoefen het, skraal en baie aktief. Hy was ook 'n mense-mens. Hy het almal liefgehad: almal is verwelkom, aanvaar en, as hulle sou wou, voor gebid. Hy kon 'n gesprek met die inkennigste mense (soos ek) aan die brand skop, aan die gang hou en deelnemers met 'n suiwer gevoel van waardering en vrede agterlaat. Amper asof hy in sy hele wese, in alles wat hy gedoen en gesê het vir 'n mens in geen onduidelike terme kon kommunikeer dat hy dankbaar vir die tyd saam was nie.

In ruil vir sy liefde is hy ook diep en innig liefgehê. Hy was 'n tipe leier wat 'n mens wíl volg. 'n Inspirasie deur sy voorbeeld. 'n Aanmoediger wat eerder wou sien dat jy probeer en foute maak as wat jy nie probeer nie. Hy sou die bote van uitdagings kort-kort die storms in uitstoot en almal aanmoedig om saam te kom en te leer.

Ek onthou sy kantoor. Daar was 'n blou rusbank, twee kleiner rusbanke van dieselfde materiaal en ontwerp, en etlike stoele vir personeelvergaderings. In die hoek het 'n donkerbruin boekrak gestaan met al die boeke wat hy oor jare en jare se bediening gekoop en gelees het. Konkordansies, gesangeboeke, verwysings en dagstukkies het die rakke vol gestaan.

En toe is hy skielik weg.

Maande later, terwyl die kerk in skok voortgaan en doen wat kerke doen, moes sy vrou sy kantoor begin ontruim. Sy het gevra of daar van die boeke op sy rak is wat ek wil hê. Hulle kan nie met alles trek nie. Ek het een middag, laat, terwyl niemand by die kantoor is nie, sorgvuldig deur die boekrak gewerk om boeke te kies. Ek wou nie hê ander moet sien hoe 'n emosionele taak dit vir my was nie. Ek het die boeke na my lessenaar gedra en in 'n stapel gelos. Dit wat ek uitgekies het was maar 'n breukdeel van die hele rak. Mens kon skaars sien dat daar boeke weg is. Mens wil mos nie 'n ander mens vir wie jy lief is (of was?) se goed sommer net vat nie. Al het sy vrou gesê ek mag.

In elk geval. Maande later is die boekrak leeg en skoongemaak, en voorberei vir die nuwe dominee.

Die kantoor het uiteraard verander. Die ou stoele en rusbanke is omgeruil vir nuwes. Die lessenaar is omgedraai. Die hele kantoor is nuut gemaak en herrangskik, soos wat dit hoort. Maar die boekrak in die hoek het vir lank leeg bly staan.

Toe tref die pandemie en word die kerkgebou in effek gesluit. Personeelvergaderings en kerkbyeenkomste gebeur aanlyn. Ons sien mekaar se vol en indrukwekkende boekrakke in die agtergrond op rekenaarskerms. Partykeer, as mens gelukkig is, sien ons 'n snaakse titel of 'n vreemde portret of poster.

Stadig maar seker het lockdown begin lig en ons kon weer kerk toe gaan om te werk. Ons kon mekaar groet sonder om eers unmute te druk, al moes ons ten minste 2 meter uitmekaar bly.

So loop ek vandag deur die kerk en sien deur die venstertjie in die dominee se kantoordeur dat die donkerbruin boekrak in die hoek wat so lank leeg gestaan het nou amper vol boeke gepak is. Die nuwe dominee het sy leeswerk begin aanvul.

En daardie prentjie het my op 'n snaakse manier geraak. Ek was bly en hartseer in dieselfde oomblik. Bly dat dinge aanbeweeg, verander, vernuwe en steeds aanhou werk. Bly dat die dood nie die einde van die storie is nie. Bly dat ons personeel met goeie leiers geseën is. Bly dat die nuwe dominee sy voete vind en gevestig word. Maar ook hartseer dat dinge aanbeweeg, verander en vernuwe. Hartseer dat die dood wel die einde van 'n hoofstuk is. Hartseer dat 'n vriend en leier, amper familie, ook huis toe geroep word. Hartseer dat ons wat agterbly die gevoelens moet hanteer. Hartseer dat 'n mens in 'n amp vervang kan word, al is die leemte in 'n hart vir ewig hol.

En selfs hier is hartseer ook nie die einde van die storie nie, want ek kan onthou. Ek kan soveel goeie gesprekke in sy kantoor herroep. Ek kan sy lag in my gedagtes oproep en sy Ierse aksent hoor kommentaar lewer op Saterdag se rugby. Ek kan sy aanmoediging en sy raad en voorbeeld volg. Ek kan nog steeds sy invloed op ons kerk en mense sien. En dit sal bly tot dit nie meer nodig is nie.


Foto deur Annie Spratt on Unsplash

Comments

Popular Posts