Osbloed en die Kinderbybel

Ek geniet nogal 'n lekker rooiwyn op sy tyd. Dis 'n lekker kuier drankie. Soos 'n vriend van verduidelik: "Mens kan nie rooiwyn vinnig drink nie. Dis te sleg om sommer net af te sluk. Jy moet die glas leeg kuier, verkieslik iewers langs 'n vuurtjie saam met goeie geselskap."

Daar was wel 'n tyd toe ek nie soveel waardering vir rooiwyn en die genieting daarvan gehad het nie. Ek skat dis omdat my verwagting en my ervaring van my eerste proeseltjie osbloed nie mooi ooreengestem het nie. Die gedagte is nog vars in my geheue al het dit dekades gelede gebeur.

Pas uit matriek was ek deel van 'n Christen-bedieningspan wat rugbyklinieke by skole in die Kaap-omgewing aangebied het. Op 'n stadium het drie Amerikaanse studente by ons aangesluit om te sien wat ons doen en om 'n bietjie van die Suid-Afrikaanse kultuur en gasvryheid te beleef. As sulks het Dries, ons spanleier, besluit om ons almal op 'n wyntoer in die Stellenbosch-omgewing te vat. Dis tog gekultiveerd en eg Suid-Afrikaans, en ook iets wat die helfte van die span, vars uit die skool, nog nooit ervaar het nie.

Omdat ek lief is vir leer was ek redelik opgewonde oor die uitstappie. Daar is nie wynplase naby Beaufort-Wes nie, so ek het soveel van wyn geweet soos wat die wynwêreld van my af weet. My verwysingsraamwerk was oor die algemeen redelik beperk wat alkohol betref. Tot op daardie stadium was die enigste alkoholiese drankies wat ek oor my lippe gehad het twee ciders wat ons by Willem-hulle se huis na ons laaste eksamen gedrink het. Dit was self 'n belewenis...

Terug na die wyntoer.

Ons het by 'n redelik bekende wynplaas gestop. Ek kan nie onthou watter een nie, maar dit het vir my baie fênsie gelyk, so dit moes seker bekend wees. Ons is na die proekamer begelei waar daar 'n pragtige eikehout toonbank in die hoek gestaan het. Daar was 'n selfs mooier dame -seker 'n student wat ekstra sakgeld verdien- agter die toonbank wat ons deur die proe-proses sou begelei. Almal van ons het dus ons bes probeer om ten minste te lyk of ons weet wat ons doen. Ek was, soos die Amerikaners, goed in my noppies met die belewenis tot dusver. Dit het die potensiaal gehad om 'n uitsonderlike dag te word. Een vir die boeke...

Op die toonbank was daar 'n paar wynglase, waterglase, 'n waterbeker en twee metaal emmertjies met sulke snaakse deksels wat lyk of dit na binne ingeduik is voor 'n gat deurgedruk kon word. Ek het maar eers teruggestaan om te sien wat die ander doen. Dries het gesê mens spoeg blykbaar in die emmertjies na jy geproe het, maar ek wou eers sien of dit regtig so werk.

Die jong dame het gevra of ons al vantevore 'n wynproe gedoen het waarop almal van ons onmiddellik ja geantwoord het. Mans doen en sê dom goed as vroumense betrokke is. Dom goed.

In elk geval.

Sy sê toe ons begin dan sommer met 'n lekker osbloedjie. Ek het hardop oor haar grappie gegiggel, maar niemand het saamgelag nie. 'n Lekker swaar rooiwyn word glo soms 'n osbloed genoem... Ek verdiep my toe eerder in hoe sy die glasies skink. In stilte. Ek was nie baie beïndruk met hoe suinig sy was nie. Geskok is 'n beter beskrywing. My ouers was nog nooit welaf nie, maar hulle was nog altyd baie meer vrygewig as dít. 

Maar nou ja. Mens kyk nie 'n gegewe kelkie in die bek nie. Jy kyk na sy bene. Seker dat hy nie weghol nie. Maar eers nadat jy hom in die glas in die rondte geja het, die morskolle stilletjies met jou mou opgevee het, en hom in die lug aanskou het. En as die trane lank genoeg teen die glasrand afgeloop het druk jy jou neus in; dieper as wat tant Frieda oorkant die pad destyds haar neus in die hele dorp se sake gehad het. En jy snuif hom. Jy trek hom diep. Tot agter jou niere verby as dit kan. En dan moet jy verslag doen oor wat jy ruik. Toffie. Komkommer. Miergif met 'n slap-hakskeentjie agterna. Geskroeide hondehare na dit gereën het. Ek kan nie onthou nie. Daar was ook nie genoeg tyd om daaroor te wonder nie, want nou moes ons hom proe.

Ek het al baie slegte dinge beleef. Hierdie ervaring is, sonder twyfel, in die top-5. Die oomblik toe die wyn oor my tong en teen my verhemelte spoel het ek skielik meer vrae as antwoorde gehad. My hele wêreld het inmekaar getuimel. Ek het meteens verstaan hoekom hierdie aaklige vloeistof osbloed heet, hoekom daar metaalemmertjies op die toonbank is, en niks verder nie. Niks het meer sin gemaak nie. Die ander ouens het almal gelyk of hulle dit geniet, so ek het eers gewonder of my glas dalk vuil was. Dit was nie.

My hele wese, alles waarin ek glo, is in daardie oomblik geskud. Ek het verwag dat rooiwyn meer soos rooikoeldrank as louwarm soutpekelwater sou proe. Dit was die prentjie wat ek in die Kinderbybel gesien het toe Jesus die water in wyn verander het. Almal was gelukkig. Glimlagte orals. Vreugdevolle feesvieringe. Selfs Jesus het in sy noppies gelyk met hoe sy wonderwerk geproe het. Hoekom sal daardie prentjie dan nou 'n beeld wees van mense wat iets so onaangenaam soos die dood proe? Iets wat regtig soos flou beesbloedwater proe? My onwrikbare geloof het daardie dag 'n moerse hou gevat.

Ek het maar so gou moontlik my pad na die naaste emmertjie toe oopgeveg, die drêk uit my mond gespoeg en in die hoek van die kelder gaan sit en nadink oor die meeste van my lewensbesluite. Water kon nie die smaak of die trauma wegspoel nie. Ek is vir ewig geskaad en het myself belowe dat ek nooit weer rooiwyn oor my lippe sou neem nie. Jare later moes ek maar by 'n huisdans leer rooiwyn drink. My metgesel kon of wou nie dans nie, ons het nie veel vir mekaar te sê gehad nie, en daar was net wyn op die tafels. Mens moet seker die tyd op een of ander manier om kry tot nagereg bedien word.

In retrospek sien ek nou dat 'n mens se verwagtinge soms die grootste struikelblok is wat keer dat jy die mooi en goeie dinge in die lewe kan geniet. Veral as dit nie lyk of proe soos die prentjies in die Kinderbybel nie. En stadig maar seker, bietjies-bietjies, soos sopies osbloed langs 'n vuurtjie, raak my geloof weer minder wrikbaar.

Tjorts.

Foto: Maksym Kaharlytskyi op Unsplash

Comments

Popular Posts