Rosyntjies bly my baas
Ek eet nie rosyntjies nie. Definitief nie aspris nie. 'Haat' is dalk 'n sterk woord om te beskryf hoe ek oor rosyntjies (en alles wat soos rosyntjies smaak) voel. Voorbeeld: As studente het ons gaan wyn proe buite Stellenbosch. In my ongekultiveerdheid het ek nog nooit proe-wyn uitgespoeg nie; my ma het my mos geleer dat 'n mens nie mag mors nie. Maar op daardie mooi Saterdag het ons 'n soetwyn geproe met 'n rosyntjie na-smaak (het ek te laat op die bottel gelees). Ek het dít summier uitgespoeg en die maak-jou-palet-skoon-tussen-proeë glasie water skaamteloos uitgeskiet om die smaak uit my mond te kry.
Hierdie verhaal het my weldra gedwing om rosyntjies heel te sluk. Aspris.
My vriend Noddis het vir die Iron Man geoefen. As sulks het my ma vir hom 'n vrugtekoek gemaak wat blykbaar vol energie is, maar lig genoeg is om saam op die fiets te ry. Of so iets. Hoe dit ookal sy, die vrugtekoek is van Beaufort-Wes af saamgebring Stellenbosch toe na 'n langnaweek en in die yskas in my kamer staan-gemaak. Noddis kon daar kom haal soveel soos hy wou.
My ma was nog nooit skaam om ruim te gee nie. Haar foto word gereeld as visuele verwysing vir vrygewigheid in woordeboeke wêreldwyd gebruik. So by so het die moerse vrugtekoek (wat baie rosyne en sultanas en dergelike droë vrugte bevat, en wat ek dus nie eers wil sien nie) amper my hele yskas volgestaan. Ek dink daar was net plek vir 'n paar biere in die groente rakkie.
Noddis was ook nie die enigste jongman met 'n fiets nie. Ek en Fourie het graag op die dunwiele gerol. Een Vrydagmiddag het ons besluit om Helshoogte uit te ry en terug te kom. Ons was redelik vroegerig bo, en omdat dit afdraend in alle rigtings was het ons besluit om nie na die veilige vesting van Stellenbosch terug te keer nie, maar om deur Pniel en Kylemore te ry en dan weer oor die berg terug te ry. Die vlees en gees is mos altyd gewillig as mens afdraend kan ry.
By die Franschhoek pad se T-aansluiting aangekom is nog 'n besluit geneem om Paarl se kant toe te ry en dan met die Klapmuts-Simondium pad tot by Klapmuts te ry. Van daar af sou ons die groot pad tot by die koshuis vat en dalk 'n vuurtjie opsteek om te braai.
Slegs in retrospek kan 'n mens werklik waardeer watse gevolge jou keuses dra. 'n Jongmens dink mos nie altyd nugter nie, al is daar nie eers drank betrokke nie.
So om en by die halfpadmerk op ons roete het die son vinniger begin sak as wat ons verwag het. Seker oor ons deur berge omsingel was. Berge wat sononder met 'n uur of wat kan versnel. Berge wat, soos Dozi destyds gesing het, tussen my en jou lê; die tasbare skeiding tussen waar ek is en waar ek wil wees.
Op dieselfde plek het ek onthou dat ek die vorige aand laas geëet het. Dit was Donderdag, so ek moes deurwag sit* by Huis Ten Bosch. Omdat ek heelnag wakker was het ek gekies om nie ontbyt te eet nie, maar eerder te slaap. Ek het middagete ook gelos omdat ons vroeg genoeg op die fietse wou wees.
Nou ja. Op daardie stadium was dit ewe ver huis toe in alle rigtings, so ons moes maar deurdruk vorentoe.
Op 'n kol het my bene jellie geword. Kragteloos. Asof iemand my battery pap gespeel het en die 1% waarskuwing begin flits het. Fourie was baie geduldig. Dit het 'n paar keer gevoel of ek bewusteloos gaan word, dan klim ek maar van die fiets af om nie voor 'n wyn-lorrie in te val nie. Dis maar dunnerige paadjies.
Toe ons uiteindelik by die Klapmuts pad aankom was dit al donker. Afdraendes was welkom, dan kon ek bult-af 'free', maar met die verdoemende wete dat 'n opdraend na elke afdraend wag. Dan moes ek maar weer afklim en my fiets bult-op stoot.
Fourie het op 'n stadium aangebied om my te los en hulp te gaan haal. Ons vriend Willie het 'n Isuzu-bakkie gehad, maar Willie was die naweek weg plaas toe. Ons het niemand anders met 'n motor geken nie. Fourie was ook bekommerd dat iemand my in die donker sou oorval, of dalk oor my val, so hy het maar by my gebly.
Einde ten laaste het ons Stellenbosch se liggies gesien en die laaste afdraend koshuis toe gery. Met die gelykpad het ek nog 'n keer of wat afgeklim en net gesit, tot Fourie se groot bekommernis. Ons was net anderkant Cloetesville en Kayamandi waar talle fietsryers al in helder daglig beroof is, in die donker, alleen. Ek kon nie minder omgee nie. As die skollies my wou aanval en my fiets vat moes hulle dit doen, solank ek net nie self moes help dra nie.
Fourie het my mooi tot by die koshuis vergesel en seker gemaak ek is veilig. Ek was so honger dat die trappe tot by my kamer eintlik nie moeite was nie. Ek wou net kos hê. Maar, omdat die vrugtekoek my yskas volgestaan het was daar niks te ete behalwe gevriesde skaaptjops nie. Noodgedwonge, amper paniekerig, het ek 'n mes uit die laai gehaal, 'n stuk vrugtekoek afgesny, oë toegeknyp en weggelê.
Na die tweede mondvol het ek gestop, my lewenskeuses ernstig in twyfel begin trek, en maar besluit om Neelsie toe te sukkel en by 7/11 iets te gaan koop. Ek het besluit dat ek eintlik nie honger genoeg was om rosyntjies aan te pak nie.
Hulle sê honger is die beste kok. Ek stem nie saam nie. My ma is die beste kok/bakster wat ek ken. Maar rosyntjies bly my baas.
* Deurwag sit is wanneer mans-studente betaal word om deur die nag by dameskoshuise se geslote voordeure te sit om laatkommers in te laat en 'n mate van sekuriteit te gee. Dit is ten betaling en die R100 per nag wat ek verdien het was 'n welkome toevoeging tot my maandelikse sakgeld.
Comments
Post a Comment