Fietsry (Deel 1)
My pa het altyd gesê hy hou nie van fietsry nie, want die wind is altyd van voor. En dis nogal waar.
Ek ry onlangs werk toe met my fiets. Die wind was vir 'n ent reg van agter. Lekker. Soos om afdraend te ry. Toe onthou ek dat ek na werk weer huis toe moet ry; wind-op.
Asof dit nie sleg genoeg was nie vat die pad my net daar om 'n draai waar dit voel of ek direk teen 'n tropiese sikloon in sukkel. Amper asof ek teen 'n onsigbare muur vas ry; soos fietsryers dit noem wanneer jou petrol op raak: "Hitting the wall." Ek het 'n paar keer in daardie muur vasgery. Een so 'n geleentheid was tydens 'n wedren op Valentynsdag.
Dit was die jaar van ons Heer, 2004. Ek het pas my tweede finalejaar aan die Universiteit van Stellenbosch begin en was passievol oor fietsry omdat 'n goeie vriend van my passievol oor fietsry was. Ek en Coetzee het so tussen studies deur saam geoefen en saam vir wedrenne ingeskryf. Hy was (en is nog steeds) 'n baie beter sportman as ek, en ook baie meer gedissiplineerd, so hy het gewoonlik die wedrenne met die grootste gemak klaargemaak. Die Cape Argus was een. Die Burger/Sanlam was nog een. Hierdie episode speel tydens die Ninety Niner ('n 108 km wedren in die Kaapgebied) af.
Dit was Valentynsdag. Geen probleem. Coetzee was nog enkellopend en ek het ingeskryf voor ek en my nooi gekys het. Prioriteite, jy weet.
My suster het ons - ek, Coetzee en my nooi - die Vrydagaand (Vrydag die 13de...) in Stellenbosch kom haal. Sy het 'n Nissan 1400 bakkie gehad. Ek en Coetzee was agterop met ons fietse, my suster agter die stuurwiel en my nooi langs haar. Ons het in my sus se woonstel oornag en sy sou ons die volgende oggend vroeg na die wegspringpunt vat. Maar eers het ons probeer "carbo load" deur pasta te eet tot ons ampertjies vlot Italiaans kon praat.
Na 'n rustelose nag op my suster se sitkamervloer is ons die volgende oggend op, aangetrek en reg vir die pad. Snaaks hoe vroeë oggende in Februarie koud kan voel as jy net stywe fietsryklere aanhet. My nooi het saam na die wegspring gekom al was dit vroeg, koelerig en Valentynsdag. Punte vir toewyding.
Hoewel ons betyds was is die wegspring met 'n paar uur vertraag. So het ons eers 7:00 weggespring. Teen daardie tyd is my ligte ontbyt en die massas pasta van die vorige aand al opgebruik. My Italiaans was ook nie meer te watwonders nie. Seker my vinnige metabolisme (wat nou so stadig soos 'n verdoofde slak loop). Ek was ook naïef en/of arrogant genoeg om te dink dat ek nie nog eetgoedjies in my hempsakke hoef saam te ry nie. Duur lesse sou geleer word...
So op 50 km was die pad lank en reguit: gelykpad met min tot geen wind. Ek was in 'n bondel ryers wat 'n stewige pas gery het na Coetzee my al by die 30km merk gelos het, maar ek het gemaklik gevoel en gedink ek sal dalk 'n goeie tyd kan ry. Toe raak dit al hoe moeiliker om by die groep te bly. Eers het ek gedink die groep stoot hulle pas 'n bietjie op, maar die spoed op my renrekenaar het gewys dat die probleem by my gelê het. Die groep het my agtergelaat soos 'n nat nappy. Die tipe nappy wat al 'n paar dae in 'n bedompige drom gelê het. Ek het glad nie meer vars gevoel nie. Inteendeel, ek het die teenoorgestelde van vars gevoel.
Die verversingstalletjies langs die pad het ook net water bedien. Wat ek nie als sou doen vir 'n glasie Coke om my bloedsuiker 'n hupstoot te gee nie... Op 'n stadium het ek so stadig begin ry dat ek amper omgeval het terwyl die ander renjaers by my verbyskiet. Ek het soos 'n esel by die Durban July gevoel.
Kort daarna het ek visioene begin sien. Ek het 'n wit Nissan 1400 sien aankom en gehoop dis my suster met 'n Bar One wat kom kyk hoekom ek so lank vat. Dit was nie sy nie, so ek moes maar aansukkel wenstreep toe.
Einde ten laaste het ek die eindpunt bereik: my nooi en my sus was verlig dat ek uiteindelik daar was, en Coetzee was dankbaar dat ons nou kon huis kry. Ek dink ons is sommer direk van daar af Stellenbosch toe om vir hom af te laai. Hy moes vir 'n groot toets leer. Ek en my nooi is weer Kaap toe saam met my sus sodat ek kan herstel sonder afleidings van akademie of sulke dergelike dinge.
Daardie middag later het ek en my nooi Strand toe gery met 'n botteltjie J.C. Le Roux vonkelwyn en 'n paar eetgoedjies wat my sus (die legende!) bymekaargemaak het. Ek was hoofsaaklik bekommerd dat my bene op pad soontoe sou begin kramp en dat dit 'n ongeluk sou veroorsaak, maar dit het gelukkig nie gebeur nie. Ek en my nooi kon sodoende Valentynsdag met 'n lieflike laatmiddag op die strand vier, so tussen my kreune en steune deur. Sy was mooi geduldig as ek met moeite in en uit die bakkie geklim het. Nog punte vir toewyding...
Mens besef nie altyd hoe opbouend dit kan wees om te weet daar is liefdevolle arms wat by die eindstreep vir jou wag nie. Iets om na uit te sien. Iemand om na uit te sien. Veral met die wind wat altyd van voor is.
Comments
Post a Comment