3 Desember

Vandag reflekteer ek op die eerste foto wat ek ses jaar terug met my nuwe kamera geneem het.

Dit was 'n koue Woensdag, soos die meeste Desemberdae in Engeland maar is. Ek het opgestaan, my hoogswanger vrou gegroet voor sy werk toe is en self die twintig minute se stap werk toe aangepak. Ons het pas by 'n nuwe woonstel ingetrek. Goeie vriende van ons het gehelp om meubels te trek terwyl ek in Suid-Afrika was na my pa se beroerte. Dit was my tweede oggend in die nuwe woonstel.

Terwyl ek in SA was het ek 'n liedjie in 'n Mugg & Bean hoor speel en met my terugkeer na Londen onmiddellik die album gekoop. Dit was my klankbaan vir die koue tog kerk toe.

Omtrent so halfpad kerk toe het my foon begin lui. Ek het die vibrasie in my baadjie se sak gevoel en verwag dat dit my vrou was wat iets by die huis vergeet het. Dit was my suster. Toe ek haar naam op die skerm sien het ek eintlik geweet wat kom.

"Boeta, pa is weg," het haar stem deur die oorfone gekom. Ek het nie heeltemal geweet hoe om te reageer nie. Ek dink ek het stil gaan staan. Soos met die meeste belangrike dinge in die lewe kan 'n mens net deur ervaring leer hoe om op sulke nuus te reageer. My pa het die tydlike met die ewige verruil.

Ek was gelukkig om hom 'n week vantevore te kon groet. 'n Laaste sinvolle tot siens. Hy kon nie meer met woorde kommunikeer nie, maar toe ek hom daardie aand 'n drukkie gee voor ek en my ma die hospitaal op George verlaat het was daar iets wat sonder woorde gekommunikeer is. Ek glo tot vandag toe nog dat hy geweet het ons sal nie weer gesels nie. Ons sal nie weer onder die boom in Stanbridgestraat 14 se agterplaas langs die braaivleisvuur sit en diep gesels nie. Ons sal nie weer stories oor die goeie ou dae deel nie. En hy sou nooit sy kleinkinders ontmoet nie.

In elk geval.

Die nuus van my pa se dood was nie heeltemal onverwags nie. Hy het stelselmatig agteruitgegaan tot ek hom finaal op die Sondagmiddag voor my vlug Londen toe gegroet het. Maar of ek sy dood verwag het of nie, dit was steeds 'n skok. En omdat ek nie geweet het wat om te doen nie het ek verder gestap kerk toe nadat ek en my suster mekaar gegroet het. Hoe dra 'n mens sulke nuus aan jou kollegas oor? Hoe benader 'n mens die magdom gevoelens en leemtes wat die dood van 'n geliefde ontlok?

By die kerk gekom het ons personeel soos op 'n gewone Woensdag vergader. Ek het die nuus gedeel en almal het vir my en ons familie gebid. Trevor, my baas, het gesê ek moet soveel tyd af vat as wat ek nodig het, so ek het huiswaarts gekeer. Dieselfde liedjies was in my ore as waarmee ek kerk toe gestap het, maar ek kon nie verder daarna luister nie, so ek het in stilte gestap.

My splinternuwe kamera is ook afgelewer terwyl ek in SA was. Ek wou nie alleen met my emosies by die huis sit nie, so ek het besluit om Richmond Park toe te stap met die nuwe speelding in my hande. Miskien sou ek daar, met mooi fotos, 'n manier kry om te weet hoe 'n mens sulke gevoelens hanteer.

Maar voor ek by die huis uit is het ek eers die kamera getoets. Vandaar 'n nikswerd foto van 'n stoel se ruglening en 'n venster se blindings op 'n grys, koue, hartseer dag. 

En dis hoe die lewe gaan. My pa se dood was toe moeilik om te hanteer. Dit vang my nog steeds elke nou en dan onkant en die verlange kry my soms onder. Maar hoewel dit vir my moeilik was en soms is, beweeg die wêreld aan. 'n Niks-seggende foto het geen betekenis vir enigiemand behalwe vir my nie. Niemand sal na daardie foto kyk en dieselfde emosies voel wat ek doen wanneer ek daarna kyk nie.

En dis die lewe. Almal gaan nie op dieselfde tyd deur hartseer en verlies nie, maar almal stap daardie paadjie op een of ander tyd in hul lewe. Dis onvermydelik. Dood is deel van die lewe. Maar die beste wat ons vir mekaar kan doen is om mekaar so te behandel dat vertroue gebou word, sodat ons mekaar kan ondersteun wanneer die tyd aanbreek.

Ons dogter is drie weke later gebore. En ek sien, soos Mike & The Mechanics beskryf, so baie van my pa se geaardheid in haar. Dieselfde vuur. Dieselfde hardnekkigheid. Dieselfde krulhare en bruin oë wat my daagliks aan my pa herinner. Soms kom die antwoorde vinnig en maklik. Soms vat dit tyd en geduld en genade van bo.

Comments

Popular Posts