Kaptein Bul

Ons is soms gelukkig genoeg om goeie mense op ons lewenspaaie te ontmoet. As mens werklik gelukkig is ontmoet jy sulke goeie mense op 'n jong ouderdom en loop dalk 'n lang pad saam. Maar die gelukkigstes van ons ontmoet A-klas mense op skool en noem hulle "Meneer" of "Juffrou." Ek was baie gelukkig om deur 'n menigte sulke mense onderrig te word. Een van hulle was Mnr. Kruger, ook bekend as Kaptein Bul.

Hy het Aardrykskunde gegee. Ek was nie noodwendig passievol oor Aardkrykskunde nie. Ek het dit gekies omdat ek op daardie stadium selfs minder passievol oor Geskiedenis en Biologie was. Hulle sê mos alles is moeilik, so jy kies jou eie moeite. In hierdie geval was dit 'n gelukskoot, want wat ek in passie vir die Geografie kortgekom het, het Kaptein Bul met sy passie vir sy vakgebied en die lewe opgemaak. En ons almal is aangesteek. 

Ons het op 'n kol agtergekom dat Kaptein Bul ook passievol oor dinge buite sy vakgebied was. Hy kon vir 'n hele periode lank oor alles behalwe Aardrykskunde praat as die regte vraag aan die begin van die periode gevra is, of die regte opmerking in die verbygaan hard genoeg gemaak is. Steyna was nogal goed daarmee om die regte vrae op die regte tye te vra as ons nie vir 'n klastoets op 'n spesifieke dag geleer het nie.

Hy het ons ook op 'n paar Aardrykskunde kampe gevat om te leer hoe om 'n kaart te lees en rigting te kry. Ons het een Julie-vakansie in die noorde van Namibië gaan draai; 'n absolute treffer van 'n Aardrykskunde-toer. 'n Ander keer het ons op 'n plaas buite Beaufort-Wes vir 'n naweek gaan kamp. Altyd lekker om koue baked beans uit 'n blikkie te eet vir drie maaltye 'n dag...

Die belangrikste les wat hy my ooit geleer het was nie oor cumulo nimbus of cirrus wolke nie. Ook nie oor tipes gesteentes en hoe berge gevorm word nie. Dit was om anders te dink oor 'n probleem en uitdagings. Hy het dit dalk nie so bedoel nie, maar ek dra hierdie lewensbeginsel vandag nog met my saam.

Hy het ons aangemoedig om, in ons voorbereiding vir 'n toets of eksamen, crip notes te maak. Skokkend! Hoe kon 'n onderwyser kinders aanmoedig om oneerlik te wees! Hy het verder verduidelik hoe ons dit moes doen: som die feite op en skryf dit so klein as moontlik op 'n A4-papier. Dan moes ons die papier mooitjies opfrommel en in die drom gooi met die kennis ferm in ons verstande gebêre.

Die lig het uiteindelik vir my aangegaan: As ek deur al die moeite sou gaan om crip notes te maak kan ek netsowel dieselfde tyd vat om net te leer. Met ander woorde, as ek hard gaan werk om te konkel kan ek netsowel hard werk op 'n eerbare manier sonder om te konkel en nog steeds dieselfde resultate kry. 'n Pragtige les oor integriteit en hoe om probleme en uitdagings aan te pak wat ek aan my kinders wil oordra.

Ek wonder soms hoeveel ander Aardrykskundeklas lewenslesse ek al vergeet het. En ek wonder soms of ons hóm regtig met ons ontoepaslike vrae en opmerkings gemanipuleer het as ons nie wou klas hê nie, en of hy dalk óns belange op die hart gedra het deur vir 'n periode of twee net wysheid i.p.v. kennis oor te dra. Ek vermoed hy het geweet en geglo dat ons wêrelde en ons lewens groter as Aardrykskunde sou word.

Legend...


Foto deur Eelco Böhtlingk op Unsplash

Comments

Popular Posts