Sparky en die uil

In die jaar 2000 (hoekom voel dit asof ek 'in die jaar' voor '2000' moet sit, maar nie voor enige ander jaartal nie?) het ek die voorreg gehad om 'n skool- en kerkbedieningspan in die Karoo te lei. Ons het amptelik op sewe dorpe met nege gemeentes in die Beaufort ring bedien, asook al die skole in elke dorp. Dit klink dalk na baie, maar in die Karoo is dorpe en skole nie baie groot nie. Ons het wel hard gewerk, ver gery en goeie ervarings gehad.

Daar was egter ook minder goeie ervarings. Een van hulle het op Merweville begin en oorgespoel tot binne-in Prins Albert se hospitaal.

Dit was 'n Woensdag, as ek reg onthou. Ons was vir die week in Merweville om by die twee skole te bedien voor ons daardie naweek 'n kamp vir 12- en 13-jariges sou aanbied. Ons het in die laerskool se koshuis, Huis Mervia, tuisgegaan terwyl ons in Merweville gewerk het. Die kos was uitstekend en die mense uiters vriendelik, soos Karoo-kos en Karoo-mense mos maar is. Huis Mervia dra ook dieper betekenis vir my, want my ouma was jare vantevore koshuismoeder, en my pa het daar as skoolkind gebly.

Na middagete het ons so 'n kort tydjie vir rus gehad voor ons by 'n klein kerkie se kindergroepie moes gaan bedien. Die Bybel-lessie het rondom Hebreërs 13:5b gedraai: "God self het gesê: 'Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.'" Ek onthou dit, want ons het alles in ons vermoë gedoen om die kindertjies daardie versie te laat onthou.

Op 'n stadium het Sparky (dis sy bynaam) gesê hy voel 'n bietjie moeg. Dit was heel verstaanbaar na 'n groot naweek-kamp saam met 'n trop tieners in Die Hel (nee, ek bedoel Gamkaskloof), so dit het my nie baie gepla toe hy 'n bietjie op die kerkbanke gaan lê het waar die kinders hom nie kon sien nie. Sy beurt om die versie te resiteer was in elk geval al verby.

Na die sessie het ons vinnig by Charl se ouers aangedoen om iets op te tel of af te laai vir daardie aand se pizza maak. Soos ek sê, met die gasvryheid in Merweville is daar niks mee fout nie. Ons is uit-en-uit op die hande gedra. Ek het in die Venture bly wag terwyl Charl en 'n paar spanmaats gou by sy ouers ingedraf het. Sparky was nog steeds moegerig, so hy het met sy kop teen die venster agter my gelê. 

Meteens hoor ek iets wat klink asof 'n 2-liter melkbottel agter my kop ontplof. Ek dog eers Sparky het dalk 'n waterbottel of 'n 2-liter Coke laat val en die ding het gebars. Toe ek omdraai om te kyk wat aangaan het die reuk my eerste getref. Sparky het sy middagete geheel en al verloor; op die sitplek, op die vloer en teen die venster.

Hier moet ek noem dat ek en braaksel glad nie goed regkom nie. As ek net die idee van naar word kry, of ek ruik iets wat daardie tipe suur klankie dra, trek my maag op 'n hoop en my keel trek oop. Dan 'huuk-huuk' ek ook soos 'n dieselbakkie wat sonder brandstof wil gaan staan. Ek kan dit nie hanteer nie.

Snaaks genoeg, toe Sparky in die Venture naar word was my eerste reaksie om te help. Dit was wel van korte duur, so ek het maar liewers uitgeklim en probeer moed inpraat van buite af. Gelukkig het Charl vinnig by die Venture aangekom. Soos die ware leier wat hy is, kon hy met net een kyk die situasie opsom en het hy presies geweet wat om te doen: gaan haal skoonmaak goed. Ek was nog in skok met 'n 'huuk-huuk' in my keel. Sparky het gesê dat hy baie beter voel, asof al die kwatigheid uit is, en dat hy baie jammer is. Ons het hom probeer gerus stel en gesê dat alles okay sou wees.

Alles was nie okay nie. Toe ons daardie aand by Charl se ouers kuier om pizza te eet het Sparky (die een wat sy bynaam verdien het) weer lusteloos en stil geword. Die dorp se suster - die naaste dokter was op Prins Albert - het vinnig kom kyk en gesê hy moet vloeistowwe drink om teen dehidrasie te keer. Hy kon niks in sy maag hou nie. Nie eers water of flêt Coke nie. Toe niks help nie en Sparky word nie beter nie het ons besluit om hom Prins Albert toe te vat. Hospitaal toe. Al was dit sterk skemer.

Ek, Charl en Toinette het vir Sparky agter in die Venture laat lê en so is ons die pad af Prins Albert toe. In daardie dae was die pad vanaf Merweville tot by die N1 (so 45 km) 'n grondpad met padtekens wat teen koedoes waarsku kort-kort langs die pad. Om in die aand te ry is nie onmoontlik nie, maar definitief nie wenslik nie. Veral nie as jy vinnig moet ry nie. Van die N1 af tot in Prins Albert (so 48 km) was darem geteer, maar met dieselfde waarskuwings langs die pad.

Ek en Charl het voor gesit, oë wawyd oop om vir koedoes in die diep skemer uit te kyk, terwyl Toinette met die grootste geduld vir Sparky probeer water ingee het. Elke nou en dan het sy kom verslag doen. 'n Swaar stilte het oor die Venture toegesak toe sy kom sê het dat Sparky begin wegraak (m.a.w. bewussyn verloor). My voet het daarna 'n bietjie swaarder op die petrol-pedaal gerus. Soveel so dat ons amper 'n uil wat in die pad gesit het raakgery het. Dit was 'n groot uil. Met geel oë. En ek kon nie help om te wonder of dit dalk 'n teken van onheil was nie. 'n Mens dink mos die vreemdste dinge om van die buitengewone te probeer sin maak...

Op Prins Albert aangekom is Sparky in die hospitaal opgeneem en onmiddellik op 'n drup gesit. Merweville se suster het vooruit gebel. Ons drie is kort daarna terug Merweville toe nadat ons seker gemaak het dat Sparky okay is en dat daar niks verder was wat ons vir hom daar kon doen nie. Die koue pizza by Charl se ouers het vorentoe gesmaak, al was die reuk van siekte nog vars in my neus en die uil se oë nog vars in my geheue.

Sparky is vier dae later ontslaan; so maer soos 'n riet. Hy was redelik dun toe hy siek geword het, so vir hom om nóg gewig te verloor was merkwaardig en ietwat aaklig om te aanskou. Sy ouers het hom kom haal om by hulle in Beaufort-Wes aan te sterk. Hy het blykbaar op 'n ding in 'n hoenderbeentjie gebyt wat hom amper tot die dood toe vergiftig het. Die kos was vars - niemand anders het enigsins siek geraak nie, nie eers 'n loopmaag nie - dit was net 'n een-in-'n-miljoen vloekskoot.

Sparky kon eers twee weke later weer by die span aansluit. En Hebreërs 13:5b spook tot vandag toe nog by my.

Comments

Popular Posts