Dagdroom Donderdae

Dis Vrydag soos ek hier sit en skryf. My gedagtes dryf vanaand in verskillende rigtings: verlede toe en die toekoms in, terselfdertyd. Dis snaaks hoe ek na die verlede verlang terwyl ek oor die toekoms droom. Ek dink aan hoe dit moet wees om my eie plaas te hê, my eie spasie te hê (of ten minste sover my jong gesin dit sou toelaat...), dalk my eie werkswinkel in 'n skuur iewers waar ek houtwerk kan doen en mooi goed kan maak of herstel. Soos my oupa Flip gedoen het. En dis waar my gedagtes terug draai na my kinderjare.

My pa en ma het beide gewerk, so ek en my suster het groot dele van die week se dae by my ma se ouers spandeer. Gelukkig het hulle in 'n huis met 'n groot agterplaas, 'n garage en 'n afdak gebly. Die afdak het as my oupa se werkswinkel gedien. Hy was uitstekend met sy hande. Hy kon (en het) enigiets gebou of reg gemaak. Hy het twee karavane gebou, houtmeubels wat in enige fênsie winkelvenster sou kon staan, diefwering en tralie-deure, staanhorlosies, houtkrale vir juweliersware, en nog baie meer. 

Dit was my voorreg om baie tyd saam met hom onder die afdak deur te bring terwyl hy die mooiste goed gemaak het. Hy het selfs vir my my eie werksbank gemaak waarop my eie draaibank vasgemaak was, met laaie vir my eie gereedskap. Seker omdat ek een van sy hamers eendag per ongeluk weggesteek het en vergeet het waar dit was (of dat ek dit weggesteek het). Hoe dit ookal sy, my oupa se liefde vir skep was voor die hand liggend. En dalk 'n bietjie aansteeklik ook. Ek het dit net so geniet om hout asbakkies van oorskiet hout te maak (mooi met vernis geverf en alles) as wat hy dit geniet het om 'n pragtige eetkamerstel te bou. Ek kan nie onthou dat hy ooit kwaad of ongeduldig met my kinderlike pogings geraak het nie. Ek was baie lief vir hom.

Oupa Flip is in 1995 oorlede; long emfiseem as gevolg van asbestose na jare se werk in die asbes stoomketels by die spoorweë. Ek wonder baie keer wat hy van my lewe na 1995 sou dink. Ek vermoed hy sou trots wees op my skoolprestasies. Ek vermoed hy sou my gehelp het met my metaalwerk praktiese opdragte. Ek vermoed hy sou bly wees toe ek my graad vang (uiteindelik). Ek vermoed hy sou ook baie van my vrou gehou het. Ek dink hy sou haar op die hande dra soos die ware jêntelman wat hy was. Ek vermoed hy sou my kinders stout bederf het; meer nog as wat hy my en my suster bederf het.

So droom ek oor die dag wat ek

'n afdak kan hê waar ek goed kan bou en regmaak en kan skep, soos oupa Flip. En om dalk iets van daardie passie vir my eie kinders te leer en, meer belangrik, te wys. Soos oupa Flip. Ja, so dagdroom ek oor 'n plaas met 'n werkswinkel, tussen die trane van verlange en goeie herinneringe deur.

En dit is nie eers Donderdag nie.

Comments

Popular Posts