Die beste plek om vis te vang in Lambertsbaai

Toe ek, Willie en Fourie ons Weskus Hengeltoer naby Ceres begin het, het ek nie verwag dat ek so min sou slaap nie. Dis nie dat ons laat gekuier het of eintlik baie vroeg opgestaan het nie. Dis omdat een van ons driemanskap (ek wil nie name noem of vingers wys nie...) gesnork het. As mens van 'balke saag' praat, het hy groot woude tot skamele vuurhoutjies verminder. In 'n viermantent. Die hele nag deur. En wat erger was is dat hy sy kooi in die middel van ons tentjie gemaak het. So daar was vir my geen wegkomkans nie.

Dit het sommer al die eerste nag op Dwarskersbos begin. Ek het om en by 3:00 so boos geraak dat ek opgestaan het, my visstok en gereedskap gevat het en op die strand gaan probeer visvang het. Hoe ver of diep ek die aas in die see gekry het weet ek nie, maar ek het ook nie eintlik omgegee nie. Diep in my binneste het ek eintlik gehoop dat ek iets sou uit trek terwyl die ander slaap, al was dit ook net per ongeluk.

In die halfuur wat ek daar met my kaal voete in die ysige Weskus water gesit het, het ek nie eers 'n byt gekry nie. So het die kouete en verveeldheid my begin vang en het ek besluit om eerder die kleiner van die twee euwels (koue vs. 'n menslike houtsaag) in ons viermantentjie aan te pak. 'n Mens kan nog met min slaap 'n hengeltoer voltooi, maar nie met vriesbyt voete nie.

In elk geval. So het dit aand vir aand aangegaan en ek het moeër en moeër geword na elke rustelose nag. Ek kon net eenvoudig nie slaap nie.

So toe ons by Lambertsbaai se karavaanpark indraai en die ander twee manne begin praat van lyne natmaak het ek sommer onmiddellik ingestem om die tent op te slaan en die kamp reg te kry terwyl hulle gaan hengel. Ek wou sommer net 'n uiltjie knip terwyl ek kon sodat my bemoerdgeit nie meer soos 'n dreigende donderwolk oor ons toer hang nie. Ek word maar swartgallig en bítter as ek moeg is...

Ons het die bakkie afgelaai en die manne is daar weg. Die oom by die Lambertsbaai Toerismeburo het gesê dat die jetty by die hawe die beste plek is om vis te vang. Daar moet jy blykbaar net jou emmers en koelbokse reg hou om al die vis wat jy vang te bêre. Jy't amper nie eers aas nodig nie; jy trek hulle sommer net so met 'n hoekie alleen uit. Tot op daardie stadium het ons nog niks behalwe seebamboes gevang nie, so die jetty het soos die ideale plek vir onkundige vissermanne soos ons geklink. Ek het liewer, soos my plan was, by die karavaanpark gebly, tent opgeslaan en my oë gerus.

Seker so twee ure na Willie en Fourie daar weg is, word ek wakker toe Willie se bakkie langs die tent stop. Ek staan toe op (goed uitgerus, 'n nuwe mens, stralend gelukkig) om te sien hoeveel koelbokse se vis ons daardie aand sou moes braai. Ons Karoo skaapvleis was toe al op, so 'n goeie vangs was meer van 'n noodsaak as 'n luukse. Die manne het begin lag toe hulle my sien. Hulle vertel toe, met groot smaak, wat gebeur het:

Soos die oom by die toerismeburo voorgestel het, het hulle afgery hawe toe, visstokke en trommeltjies afgelaai en tot op die punt van die jetty gestap. Aas is aangesit (net om veilig te speel) en die sinkers is sommer naby die hawemuur in die troebel water laat sak. 'n Mens kan in elk geval nie baie ver van die jetty af ingooi nie, want die vissersbote ry so knaend daar verby dat hulle jou lyne op 'n hoop sou trek.

'n Tydjie na hulle begin ingooi het kom staan daar 'n ouerige oom so 'n entjie van hulle af weg. Hy het sy pyp opgesteek, klaar gerook en nader gestap om te kom groet. Hy vra toe: "Is julle hier vanuit dié omgewing?"

"Nee, oom," was hulle antwoord. "Ons is van Stellenbosch, studente. Ons is op 'n hengeltoer langs die Weskus op."

Met 'n skuins glimlag en 'n koddige laggie sê hy toe: "Ja nee, ek het so gedink. Ek woon nou al vir 35 jaar op Lambertsbaai en julle is die eerste mense wie ek sien visvang van hiérdie jetty af."

Fourie en Willie het toe maar die lyne ingekatrol, opgepak, 'n paar fotos geneem en karavaanpark toe gekom. Ons moes daardie aand, in plaas van vis braai, vis en chips by die kafee gaan koop. Soms forseer die lewe se ironië jou om 'n sin vir humor te ontwikkel. Al is jy moeg.

Comments

Popular Posts