Garies se water

In 2005 se wintervakansie is ek en vier vriende Namibië toe om te gaan jag. Een van ons vyfmanskap se pa het 'n plaas in die suide van Namibië gehad. Dit was my eerste jag, en ek kon nie vir beter geselskap vra nie. Ek, Noddis, Willie, Johan en Fourie het groot vriende op Stellenbosch geraak en daardie jaar saam in Huis De Villiers gebly. Dit was my finale finalejaar.

Noddis het ons vertel van 'n vriend van sy pa wat 'n interessante manier gehad het om dinge te beskryf. Een van sy vergelykings het rondom hoe sleg Garies se water is gedraai. Garies is 'n klein dorpie in die Noordkaap, vlak langs die N7. As iets "slegter as Garies se water" was, moes jy weet dit was bitter sleg. Sodoende het ons besluit om oppad jagveld toe in Garies aan te klop om die water te proe. Hoe sleg kon dit dan nou wees?

Ek het daardie Donderdagoggend vroeg in Willie se bakkie geklim in die hoop om 'n uiltjie op die agterste sitplek te knip. Dis 'n lang pad Namibië toe en ek het redelik broos gevoel. Ons het die vorige aand ons NOS-klas se kwartaallikse afsluiting-kuier gehad (enige rede is goed genoeg...) en ek het lank na middernag by die koshuis ingesluip om te pak en reg te wees vir die beplande 5:00 vertrektyd. Ek was dus moeg om dit sagkens te stel.

Toe ons in Garies aankom en 'n plek soek om die plaaslike water te beproef was net die Garies Hotel en Restaurant oop. Gelukkig was daar iemand agter die toonbank in die kroeg gedeelte; wie weet hoekom so vroeg. Ons vra toe vir 'n glasie water en 'n Coca Cola elk, asseblief. Die Coke was in geval die water regtig so sleg was. Ek was in my stilligheid 'n bietjie senuweeagtig, want ek het nog nie genoeg rus gekry nie, en omdat ooms van die Noordkaap mos nie eintlik oordryf as hulle dinge beskryf en vergelyk nie. Dalk was die ander manne ook stilweg gespanne oor die proe wat voorlê. Ek weet nie. Seker dié dat ons gesigte meer soos 'n 1970's kerkraad s'n lyk as studente met vakansie oppad jagveld toe (sien foto).

In elk geval. Die water is vanuit die kombuis gebring. Die nodige fotos is geneem. Ek dink ons het dalk afgetel en almal gelyktydig 'n sluk gevat; Coke byderhand om enige nare nasmake af te sluk.

Aanvanklik wou niemand iets sê nie. Daar het 'n stilte in die kroeg gehang. Nie die aaklige, knersende stilte wat jy van 'n brak-bitter glas water op 'n leë maag sou verwag nie, maar eerder 'n stilte wat wonder of die smaak werklik so erg is. Die glasie water was eintlik verfrissend. Dalk selfs opbouend; lewegewend, selfs. Alles behalwe bitter of sleg of brak. Die oom het seker oordryf. Een vir een het ons ons waarnemings begin lug; almal dieselfde. Die water was nie sleg nie. Dit het soos die suiwer water van die skone Stellenbosch geproe.

Meer uit verligting as enigiets anders het ons die kroegman nadergeroep om te betaal en vertel hom toe sommer ook hoekom ons nou juis op 'n Donderdagoggend vroeg 'n glas water en 'n blikkie Coke by hom bestel het. En ook dat ons kan rapporteer dat die water glad nie so sleg is soos Noddis se pa se vriend uitgemaak het nie. Die kroegman het stil geraak: die tipe stilte wat die dieper waarheid al kon insien, maar nog nie kon uitspreek nie. Hy deel ons toe mee dat ons nie kraanwater gekry het nie. Dit wat ons gekry het was gefilterde water wat hulle in die yskas hou vir mense wat nog nie dors genoeg is om sommer net enigiets by hul kele af te gooi nie. Hy sal vir ons elkeen 'n glas suiwer kraanwater bring om die waarheid te proe en te beproef.

Nou ja. Teen daardie tyd het die meeste van ons al ons glase Coke opgedrink. Ek dink daar was nog 'n halwe blikkie oor wat ons sou moes deel as die waarheid so bitter was soos ons nou vermoed het. 

Rondte twee, die ware Jakob, sonder sy bedrieglike bokvel-bedekte voorarms, is uitgebring. Ons het afgetel en almal gelyk 'n sluk gevat. Dié keer was die stilte nie van verligting of verwardheid nie, en ook net van korte duur. In dieselfde asem het ons die water se smaak bekla en Noddis se pa se vriend se insig aangeprys. Die water was baie brak. Selfs ek, wat in die Karoo met brakwater grootgeword het, kon daardie smaak nie hanteer nie. Ons moes maar stoei vir die halwe blikkie Coke. Dié wat te stadig was, soos ek, moes maar nog 'n blikkie koop om daardie aaklige smaak weg te spoel. 

Met ons skuld betaal het ons nog 'n foto voor die hotel geneem, in die voertuie geklim en in die pad geval Namibië toe. Daar het weer 'n stilte in Willie se bakkie gehang. Dit was die tipe stilte van jongmense wat op die harde manier weer aarde toe gebring is. Ons was dapper oor ons onkunde. Ek kon nie eers verder op die agterste sitplek slaap nie. Middagete op Springbok -geroosterde broodjies en 'n milkshake in 'n plaaslike restaurant- het darem die hol kol op my maag gevul en my brose gemoed getroos.

En nou weet ons wat iemand bedoel as iets slegter as Garies se water is.

Comments

Popular Posts