Die bloekom agter Skoorsteen se waenhuis

My pa het op 'n plaas buite Merweville in die Karoo grootgeword. Hy was die oudste van vyf broers, so ek dink my ouma Miempie sou met regte 'n monument tot haar eer verdien. Dis nou te sê as my eie seun se gedrag enigsins 'n aanduiding van sy voorsate se lewendigheid is. Maar nou ja. So bly baie goeie ouers sonder die erkenning wat hulle toekom.

In elk geval.

My oupa is skielik oorlede toe my pa 21 jaar oud was. Ons (my ma, my suster en ek) het hom uit die aard van die saak nooit geken nie. My pa het nie baie van hom gepraat nie. Al wat hy ooit van my oupa gesê het is dat hy baie streng was, en dat hy 'n erge terggees was.

My pa het ook nie baie oor die plaas, wat my ouma alleen vir 24 jaar na haar man se dood bestuur en bewerk het, gepraat nie. Daar was 'n paar stories hier en daar. Soos die keer toe die ou Joodse winkelier met sy bakkietjie oor die rant aangery gekom het en iewers loop vasry het. Ons het so af en toe by ouma Miempie op die plaas gaan kuier, so ons het geweet van watter rant my pa praat.

Of die storie van die mak bobbejaan en hoe my pa sy jonger broers in die moeilikheid laat kom het. Sy broers was bangerig vir die bojaan, so hy het gemaak of hy vir kees losmaak om hulle te vang, net voor hulle dorp toe moet ry. In die weghol is die jong Marais'tjies met wit dorpsokkies en al deur die modder en was ouma Miempie goed die josie in. Dieselfde bojaan het ook op 'n kol in die spaarkamer se hangkas gaan wegkruip omdat hy bang was vir die dominee wat kom huisbesoek aflê het se motor. Die kees is 'n paar dae later eers daar gekry, bedlinne en spaar kussings natuurlik tot niet.

Of die verhaal van die dag toe hulle in die plaasbakkie amper rivier-af gespoel is na groot reëns die rivier laat afkom het. Daardie gebeurtenis alleen het 'n blywende impak op my pa gehad. Die lewe het mos sulke oomblikke wat jou 'n les leer wat jy nooit sal vergeet nie.

Daar is twee ander plaas-dinge wat my pa diep geraak het. Die eerste is die impak wat droogte op die diere het en die gevoel van magteloosheid wat daarmee saamgaan. Hy het gesê dis die ergste ding om te sien hoe skape na 'n plaasbakkie toe aangesukkel kom om voer te kry wat daar net eenvoudig nie is nie. Nie tot dit weer reën nie. Ek onthou 'n paar keer waar my pa ('n sportliefhebber) summier opgestaan en weggeloop het as krieket kommentators hulle hoop op 'n reënlose dag sou uitspreek. Vir hom (en vir my) was "mooi weer" nie 'n wolklose dag nie, maar 'n dag wat dalk 'n buitjie reën kan bring. Hy het eerstehands ervaar wat droogte aan die diere en lewens in sy sorg gedoen het.

Die tweede is hoe my pa oor die stilte op die plaas gepraat het. Hy het vir my suster vertel hoe stil dit op die plaas kon raak: so stil dat die stilte 'n mens eintlik bang maak. Nie donkerte nie. Nie isolasie nie. Nie gevaar nie. Stilte. Ek skat dis die tipe stilte wat 'n mens forseer om na jouself te draai. Geen afleidings nie, net jy en jou binne-stem. En dis 'n skrikwekkende stem. Daarom vermy ons dit mos met elke moontlike afleiding.

En nou mis ek die plaas in die Karoo waar ons soms as kinders oor naweke gaan kuier het. Ek mis die braaiplek met die windskerm van riete gemaak. Ek mis dit om in die lemoenboord saam met my pa te gaan stap. Ek mis dit om saam met my suster, niggies en neef huis-huis op die knikkie naby die windpomp te speel. Ek mis die stoep se gladde, koel sementvloer. Ek mis die kraak van die vloerplanke in die gang. Ek mis die koek-koek wat soms op die uur vanuit die voorkamer gesing het. Ek mis die Agar stofie langs die kombuisdeur en ouma Miempie wat kos maak terwyl ons om die kombuistafel sit. Ek mis dit om saam met my ooms krieket op die agtergras te speel.

Snaaks genoeg, meer as dit alles, mis ek die klank van die nagwind wat deur die bloekom naby die waenhuis waai. Die klank wat met 'n windpomp se gekreun gepaard gaan. Die klank wat my as kind snags laat wakker lê het. Die klank wat tot nou toe nog by my spook wanneer ek 'n stukkie stilte en vrede soek.

Comments

Popular Posts