Die Keiser en sy kroos
Ek is 'n hondemens. Van ek gebore is was daar honde by ons huis. Die eerste een wat ek kan onthou is Dingaan, 'n pragtige swart Dobermann. My pa het hom baie goed opgelei en my ma het baie male vertel hoe Dingaan geweet het sy is swanger met my suster voordat selfs sy en my pa geweet het. Daar was ook 'n storie van 'n stoompot met gekookte afval in wat ontplof het terwyl Dingaan onder die kombuistafel gelê het, maar ek sal daardie staaltjie vir my ma los.
Na Dingaan het ons vir Chaka gehad. Nog 'n swart Dobermann reun, maar bietjie meer loskop as wat Dingaan was. Hy het 'n broer uit dieselfde werpsel gehad, 'n bruin Dobermann, wat na my oupa-hulle toe is. Sy naam was Bruno. Ek onthou hoe ons hulle by die stasie gaan haal het. Hulle het saam, al singende, per trein vanaf die Vrystaat gekom.
Toe Chaka ouer en dower raak het my pa besluit dat ons klein hondjies moet kry om die grote wakker te maak as iets op die werf nie pluis is nie. So het Skollie en Sheila by ons familie aangesluit: 'n boetie en sussie uit dieselfde Fox Terrier werpsel.
Sheila was 'n saggeaarde enetjie. Sy was maar altyd klein, fyn en teruggetrokke... soos ek ook. Seker dié dat ons so goed oor die weg gekom het. Ons het haar sommer vroeg laat regmaak, want ons wou nie die buurt se honde op hol jaag met 'n teef op hitte nie.
Skollie was 'n hardekwas meneertjie. Kleinmannetjie-sindroom, dink ek. Hy het wie weet hoeveel tande op my pa se werkskoene gewissel as my pa aan sy hok vat of klop. Ek vermoed hy was so beneuk, deels omdat my pa hom so geterg het, maar ook omdat hy so 'n tipe geaardheid gehad het. Hy was net met my pa so kwaai.
In my standerd 9 jaar het ons 'n nuwe toevoeging tot die gesin gekry; teen my pa se wil, moet ek by sê. Ek was toe al lankal lief vir Boksers (die honde, nie die sportmense nie), maar daar was geen kans dat ons so 'n groot hond sou kry nie. Ons agterplaas, al was dit baie groot, was nie groot genoeg vir my pa se duiwe en 'n Bokser nie. So ek en my ma kry toe skelm 'n baba Staffordshire Terrier. Waarskynlik nie opreg van geboorte nie, maar edel in karakter. 'n Beter hond het ek nog nooit geken nie. Sy naam was Caesar. 'n Gepaste naam, want ek dink hy sou 'n beter leier as baie hedendaagse wêreldleiers maak.
Caesar se eerste dag by ons familie was maar 'n moeilike een. My pa was oppad na sy duiwehokke toe, redelik beswaard oor ons die hond by die huis aangebring het. Hy was bekommerd dat Caesar sy duiwe sou vang en leer om dit te geniet. En daardie genot, volgens my pa, kry jy nie uit 'n Staffie uit geleer nie. Dis 'n onvergeefbare sonde om duiwe te vang. Caesar wou die agterplaas verken en het sodoende saam met my pa gestap. Op 'n kol het hy per ongeluk voor my pa se voet ingestap, halfpad deur 'n tree. Caesar verdwyn toe in 'n klein stofwolkie met hom wat vooruit rol. Dit was 'n bloot onskuldige ongeluk. Of so dink ek... Caesar het, soos tawwe Staffies mos maar doen, heeltemal ongeskaad daarvan afgekom en het verder saam gedraf.
Chaka was nog daar, maar was al so oud en siek dat hy nie veel werd was nie. Meer knorrig as iets anders. Skollie was nog daar, katjie (of is dit hondjie?) van die baan, regeerder van die wêreld (ten minste in sy eie oë). Sheila was ook nog daar en het vir Caesar probeer beskerm teen die mislike ou mans (my pa ingesluit) met gemengde sukses; 'n regte ou moedertjie.
So het ons honde een-een die tydelike met die ewige verwissel tot net Caesar oorgebly het. Ek het my eerste Diensjaar vir Christus gaan doen en onthou die verbasing waarmee ek een naweek by die huis aangekom het. Twee dinge het my onmiddelik laat wonder of ek dalk by die verkeerde huis se agterdeur ingestap het: (1) My pa het op ouma Miempie se erfstuk rusbank voor die TV gelê en Egoli kyk. Hy het voorheen net rugby en nuus gekyk, niks anders nie. En die nuus het hy net gekyk om nie die weersvoorspelling te mis nie. (2) Caesar was in die huis, kierts regop gesetel agter my pa se bene op ouma Miempie se erfstuk rusbank. Hy het nou skynbaar ook van Egoli gehou. Voor dit was daar moeilikheid as hy net gelyk het of hy rusbank se kant toe staan. En dit op die kere wat hy in die huis toegelaat is. So het dit vir my duidelik geraak dat Caesar, met tyd, diep onder my pa se vel ingekruip het; dalk selfs tot binne-in sy hart.
Caesar is 'n paar jaar daarna, in die fleur van sy lewe, deur 'n voertuig raakgery en het op so 'n tragiese manier sy einde bereik. My pa het hom in die berg buite die dorp gaan begrawe en was vir 'n week daarna nog siek van hartseer. 'n Paar weke voor die ongeluk het Caesar 'n teef gedek; die enigste keer wat dít gebeur het. Twee van die werpsel het Caesar se rooibruin kleur gehad en my pa het gevra of ons dié tweetjies -'n reun en 'n teef- kon kry, ter nagedagtenis aan Caesar die superhond. So het Jock en Nandi my ma en pa se skielike leë wêreld weer vol gemaak en soos kinders in die huis geword. Caesar het diep, diep spore in ons almal se lewens met sy vaal voetjies, sy nat neus en sy windgat draffie kom trap. 'n Mens kan 'n boek vol skryf oor alles wat hy gedoen en vermag het, en dalk moet 'n mens. Dis die moeite en herinneringe werd.
Ek het al baie daaroor nagedink en tot die slotsom gekom dat Jock en Nandi met redelik baie kwaaddoen weggekom het oor wie hulle pa was. Hulle was goeie, dierbare honde, maar nie so goed soos wat Caesar was nie. En daar lê die les vir jou en my: dis opregtheid en onvoorwaardelike liefde -nie geweld en mag nie- wat die dikste velle sag maak, die hardste harte vlees gee en die digste deure oop stoot vir die geslagte wat kom. Soos die Keiser en sy kroos ons kom wys het.

Comments
Post a Comment