Die verwarde vleuel

In die onderwys werk 'n mens gewoonlik saam met ander mense. Ek was gelukkig genoeg om saam met dertien nuwe onderwysers in 2006 by 'n groterige skool te begin skoolgee. 'n Besonderse groep mense wat diep in my hart kom kruip het. Veral die mense saam met wie ek kon sport afrig.

Omdat dit so 'n groot skool is was daar baie sportspanne om af te rig. Ek is by die muurbal ingedeel, maar het ook by die o/14 rugby uigehelp. Daar was so baie graad 8 seuns wat wou rugby speel dat hulle drie spanne kon laat uitdraf. Ek, Johann en Prieur -drie van die nuwelinge by die skool- het saam afgerig. Ek sê 'saam afgerig' net omdat ons by dieselfde ouderdomsgroep betrokke was. Johann en Prieur het geweet hoe om af te rig en sou later aangaan om groot rugby af te rig. Ek was maar net daar om die seuns wat nie A- of B-span kon speel nie besig te hou. Die C-span was dus my verantwoordelikheid. Ek het twee nr. 4 balle by Totalsports gaan koop, want die A- en B-spanne het met die skool s'n geoefen.

In elk geval. Omdat daar nie baie skole met drie o/14 rugbyspanne in die omgewing was nie, het my manne nie baie speelkans gekry nie. Ons het daardie jaar sleg teen Paarl Gim verloor. Ons het net-net teen Oakdale verloor, as ek reg onthou. En dit was veronderstel om ons seisoen te wees. 

Gelukkig was daar 'n kleinerige skool net om die draai wat een gekombineerde o/14 en o/15 span bymekaar kon skraap. Hulle het ook nie baie wedstryde gehad nie, so ons o/14 C-span is die geleentheid gegun om hulle een Woensdagmiddag die stryd aan te sê. Dit sou ons derde en laaste wedstryd vir die seisoen wees.

Soos dinge in skole mos maar gaan het een van ons spelers die Woensdagoggend besluit om homself van die span te onttrek. Ek dink hy was siek. Of net nie lus nie. Ek kan nie onthou nie, maar die nood het gedruk, so ek het in een van my graad 8 Wetenskap klasse genoem dat ons een man kort is om 15 manne op die veld te stuur. Wie het tog reserwes nodig?

Daar uit die agterste gestoeltes het ek 'n jong man sien regop sit. Kom ons noem hom Gert ('n skuilnaam). 'n Redelike groot seun vir sy ouderdom. 'n Atleet -verspring, spiesgooi en baan items as ek reg onthou van die kleure-atletiek af- maar met niks rugby ondervinding nie. Geen. Nul. Hy was nog nooit eers by 'n rugby oefening om te sien wat gebeur nie. Ek sou verbaas wees as hy ooit 'n rugbywedstryd enduit gekyk het. Wonder bo wonder steek hy toe sy hand op om sy dienste aan te bied. Seker nie baie gehad om daardie middag te doen nie, want winter is mos nie atletiek seisoen nie. En huiswerk sou nie eers op die prioriteitslys verskyn nie. Daarvan kon ek getuig...

Niettemin het ons haastig vir hom 'n paar tokse, sokkies, 'n PT-broekie en 'n trui georganiseer en hom op die vleuel ingeskryf. Hy is mos vinnig en groot. Ek het my verbeel hoe ek die Suid-Afrikaanse weergawe van Jonah Lomu ontdek en hoe hy eendag wêreldklas rugby sou speel en my by al die prysuitdelings en toekennings sou bedank omdat ek in hom geglo het toe niemand anders wou nie, en so aan. 'n Mens mag mos droom as jy met die eindelose potensiaal van die jeug werk, dan nie?

Daardie middag het Johann en Prieur saam met my gekom om die spannetjie op te warm en 'n paar laaste pointers te gee voor die groot wedstryd. Ons het die seuns hul name in die kringetjie laat noem (omdat baie van hulle mekaar nie geken het nie) en die basiese reëls van die wonderlike spel aan Gert (en sy spanmaats) verduidelik. Ek het 'n laaste vuur-en-vlam spanpraatjie oor trots, verdediging en passie gelewer, en die manne het uitgedraf.

Eintlik het dit eerder gelyk of hulle uitswem. Ma's koop mos klere wat 'n paar seisoene kan hou, so die sokkies, tokse en truie was te groot vir almal. Almal behalwe Gert, natuurlik. Ek, Johann en Prieur het agter die pale gaan staan, i.p.v. langs die kantlyn. Dis 'n ding wat ek by my ooms (groot geeste in Weskaap rugby) gesien het en wou navolg.

Dit was eintlik 'n goeie wedstryd. Dit was meer georganiseerd as pienkvoet rugby waar almal soos 'n tros bye by 'n heuningkoek rondom die bal saamdrom, maar ook nie so georganiseerd dat 'n mens sou kon uitmaak wie losskakel, vleuel en stut gespeel het nie. Die seuns het ook nie nommers op die rug gedra nie, dit was die A-span se voorreg. Ek skat dis die naaste wat ons aan Springbok-rugby sou kom met 'n flank of slot wat die heeltyd op losskakel staan en wag het... Dankie Matfield en Burger vir julle bydraes...

Ons het die eerste punte aangeteken. 'n Mooi lynbreek deur die senter wat onder die pale gaan druk het. Die drie is vervyf en ons was halftyd 7-0 voor. Na halftyd het ons teëstaanders met nuwe vuur ingeklim. Ons is ietwat onverhoeds betrap en kort voor lank was ons op die agtervoet: 'n skrum aan die aanvallende span op ons eie 5-tree stippellyn. Dit sou organisering, kommunikasie en hart vat om ons doellyn te verdedig; alles dinge wat ons nie in oorvloed gehad het nie. Maar ek het moediglik in my manne geglo en verdere instruksies van agter af geskree.

Meteens sien ons hoe Gert voor ons agter die doellyn verby hardloop. Hy was op die linker-vleuel, maar het met alle mag en mening na die regterkant van die veld toe gesleep. Mooi hardloop styl, goeie arm tegniek, hoë knie-aksie. As ons hom nie gekeer het nie het hy sweerlik eers by die skoolhek gestop.

Toe hy ons agter die doodlyn raaksien steek hy vas dat die studs slote op die nat gras trek. "Wat moet ek doen!? Wat moet ek doen!?" het hy ietwat paniekbevange geskree-vra. Die oomblik was seker 'n bietjie oorweldigend, toe skop die veg-of-vlug reaksie in. Ek weet nie of hy oppad was om te vlug, of om met iemand aan die ander kant van die veld te veg nie, maar ons sê hom toe aan om net langs die skrum, op die linker-vleuel in die pad te gaan staan. En as die bal na sy kant toe kom moet hy dit by sy opponent probeer af vat.

Gert, met 'n bietjie meer selfvertroue het op sy posisie gaan staan en wag, reg vir die onbekende. Die skrum het gekom en gegaan en ons het die aanslag oorleef sonder om punte af te staan. Die wedstryd is op die ou end 7-0 gewen; 'n goeie manier om 'n seisoen af te sluit. Ek was baie trots op die manne en baie dankbaar vir Johann en Prieur wat my bygestaan het. 

Gert het so een of twee keer kom rugby oefen, maar dit was die strek van sy rugby loopbaan.
Sy verwoede hardloop en soeke na rigting en leiding het ons egter lank daarna nog bygebly. By elke braai is die storie vertel en elke keer het ons weer lekker gelag. Nie omdat ons gemeen is, of omdat dit so erg snaaks was nie, maar eerder omdat ek Gert se paniek ken. Ek kan my daarmee vereenselwig, want soms, as dinge te veel raak, wil ek ook net hardloop tot iemand my voorkeer en sê waar om te staan en wat om te doen.

Ons is gelukkig as ons sulke mense het.

Comments

Post a Comment

Popular Posts