Blokkiesraaisel

My pa het baie kantoorwerk by die huis gedoen. Veral ná sy aftrede in 1997. As hy nie by die duiwehokke in die agterplaas was nie, was hy aan die hoof van die eetkamertafel met potlood in hand. Ek sê 'kantoorwerk', want dis wat hy blokkiesraaisels genoem het. 

Die blokkiesraaisel-woordeboeke se blaaie was al rond gekrul en bruin verkleur van jare se gebruik, maar altyd in 'n netjiese stapel van groot na klein gerangskik. Daar was nog 'n stapel langsaan: die blokkiesraaiselboeke wat my suster met elke kuier uit die Kaap uit vir hom gebring het. Die moeë uitveër het voor die stapels gelê, maar is selde gebruik om foute reg te maak. Dis meer gebruik om die voltooide boeke weer skoon te vee en onder die stapel te sit om later weer in te vul. So het sy kantoorwerk net meer geword. Altyd netjies. Dalk omdat hy in die weermag was, of die koshuis, of dalk omdat hy maar net 'n netjiese mens was.

Daar was soms ook 'n bak van Woolies se lekkers iewers op die tafel; naby genoeg om so nou en dan enetjie op te tel sonder om op te kyk. Nog 'n bederfie van my suster as sy kom kuier het. Hy het altyd gespot dat hy die sweets moet wegsteek, anders eet my ma dit op. Sy het in elk geval haar eie sweets gehad, so my pa se soetgoed was veilig op die eetkamertafel.

Die tafel was langs 'n klein boekrakkie met 'n ou stel ensiklopedieë -Kennis- en ou Afrikaanse verhale. My pa het elke storieboek seker meer as tien keer gelees. Dalk meer. Ek dink daar was dalk 'n boek of twee oor treine, tuine en medisyne tussenin wat meer stof as kennis gedra.

Agter my pa se 'kantoorstoel' was die sideboard met sy duiwetrofees en my ma se fênsie borde op hul staanders. My oupa het die sideboard gemaak. Ook die staanhorlosie. Hy het die meeste van ons sit- en eetkamermeubels gemaak. My pa se draadloos - wat eers my suster s'n en toe myne was - het RSG in die agtergrond laat hoor. Dit het 'n kassetspeler gehad wat nooit gebruik is na ek my laaste liedjie van Radio Kontrei opgeneem het nie. As die weer uitgesaai word het hy sy potlood eers neergesit en die temperatuur-  en windvoorspellings in sy duiweboek aangeteken. Daarna het hy sy kantoorwerk voortgesit.

Dis die prentjie wat ek in kop het as ek aan blokkiesraaisels dink. Vir nou, ten minste. My skoonma hou van blokkiesraaisels. Ek en my suster het ook 'n liefde daarvoor ontwikkel en ek is deesdae self besig met kantoorwerk saam met my oggend-koffie. Ek sit, soos my pa, aan die hoof van ons etenstafel, maar daar is net 'n venster en 'n potplant agter my. Geen radios of RSG uitsendings nie. Geen duiwetrofees. Geen fênsie borde of ongeleesde en opgeleesde boeke nie. Geen handgemaakte meubels nie (tensy jy die opstel van Ikea-meubels as handgemaak beskou). 

Dis net "die uwe (2 letters, eindig met K),  'n "skryfding (7 letters, begin met P)", 'n "wisser (7 letters, begin met U en eindig met R" en die sepiakleur "aandenkings (12 letters, begin met HER met twee N'e langsmekaar)" van 'n tyd wat lankal verby is.

Comments

Popular Posts