Die Intervarsity Trein En Die Kiewiet
Met arms omhoog het ek gespring en van blydskap gejuig. Ek kon nie verstaan hoekom my spanmaats nie saam met my opgewonde was nie - tot die waarheid deurgedring het: ons het eintlik die rugbywedstryd verloor. Ek het nie die telbord dopgehou nie; dalk omdat daar nie 'n telbord langs die veld was nie, dalk omdat ek redelik moeg was en telling verloor het. Die nederlaag moes ook nie so skokkend gewees het nie, want die res van ons span was moeër as ek. Baie moeër. En dit het alles op Stellenbosch se stasie begin.
In daardie dae het die Universiteit van Stellenbosch (my Alma Mater) en die Universiteit van die Vrystaat jaarliks beurte gemaak om 'n trein vol studente te laai vir 'n naweek van Intervarsity. Om die toer meer koste-effektief en die moeite werd te maak, het die beste koshuis-sportspanne ook saamgereis om hul eweknieë die stryd aan te sê. Dit was hoekom ek ook 'n geleentheid kon kry. My koshuis-span (Libertas) het halfpad deur die seisoen vierde op die koshuis-rugbyranglys gelê, so ons kon ons tokse en tassies (en Tassies...) pak, Bloemfontein toe.
Ons moes Vrydag, 9:30 by Stellenbosch se stasie aanmeld. Die trein sou stiptelik om 10:00 vertrek; zero tolerance vir laatkommers. Toe die trein eers 12:00 by die stasie inrol, was van die manne al reeds 'n bietjie aangeklam. Om op die stasie te staan en wag met toksakke vol padkos en proviant maak mens mos dors. Die wiele het seker eers na 13:00 begin rol.
Daar was 'n paar trokke vir koshuis-sportspanne en 'n paar vir ondersteuners. Die Maties-spanne (wat die universiteit verteenwoordig het) is almal bymekaar gehou, weg van die koshuisspanne en ondersteuners af. Die etenswa het ons geskei. Ek sê etenswa, want dit was die amptelike naam. Dit was eintlik net 'n kroeg.
Een van my spanmaats het 'n rondte gaan koop en redelik boos met leë arms teruggekom. Blykbaar was meer as die helfte van die drankvoorraad al op en geen verkope tot verdere kennisgewing meer toegelaat nie. Ons was nog nie eers in die Karoo nie. Die kroeg moes noodgedwonge weer oopmaak toe gerugte van muitery en revolusie in die gepeupel se waens versprei het.
So teen 21:00 het ons by Beaufort-Wes (my tuisdorp) se stasie stilgehou. Hulle het ons al van 18:00 af verwag. 'n Heerlike braaivleis-ete is in polistereenbakkies gepak om op die trein te nuttig, maar ons moes dit self by die sportklub naby die stasie gaan haal. Teen daardie tyd moes ons span se een stut en 'n senter vir Theuns, ons heelagter, na die kospotte toe dra. Hy was so dronk dat hy nie op sy voete kon staan nie, maar sing en geselsies maak was nog moontlik. Sy ondersteuning was ook nie te vasvoetig nie, maar goed genoeg om die kort stappie tot by die sportklub en terug met ‘n singende slagding tussen hulle sonder te veel drama te voltooi. My ouers het kom groet om voorspoed toe te wens; so ek moes hulle maar besig hou terwyl Theuns verbygedra word. Ek vermoed my pa het geweet wat aangaan. Hy was op heelwat rugbytoere in sy jongdae.
In elk geval.
Slaap op die trein was maar min. Die kombinasie van dronk studente wat by vensters uithang om naar te word, koshuisliedjies wat luidkeels gesing-skree word, grappe wat met oorweldigende passie vertel word en die tik-tik, tik-tik van metaalwiele op 'n reguit spoor in die koue donkerte maak slaap maar moeilik. Ek dink ek kon darem 'n uur of wat rus.
Omdat ons laat weggespring het én vertraag is, het ons eers rondom middagete in Bloemfontein aangeland. Libertas moes net na middagete uitdraf, so ons en 'n netbalspan of twee is op die eerste bus gelaai om nie té laat by die geelgerypte velde op te daag nie. Ons moes sommer op die bus ons rugbyklere aantrek. Die netbalspanne voor in die bus is aangesê om oë front te hou, maar ek is seker ek het 'n paar draainekke en skelm kyke opgemerk. Theuns was darem nugter genoeg om homself aan te trek. Dankie tog. Ons moes maar tussen die bus se stoele strek en opwarm.
By die sportgronde aangekom, is ons direk veld toe, maar nie voor die dapperste kiewiet wat ek in my lewe gesien het ons van haar nes af verja het nie. Die kiewiet het met oopgespreide vlerke tussen haar nes en die bus gaan staan en skree; omtrent 'n meter uitmekaar. Die netbalmeisies het vir die geskree geskrik en opslag die busdrywer oorreed om die kiewiet en haar nes in vrede te laat. Hy moes omdraai en hulle sou daar staan en kyk tot hy dit doen. Seker met gevoude arms. Libertas het haastig veld toe gemik.
Die wedstryd was nie so opwindend soos die ontmoeting met die kiewiet nie. Hulle het punte aangeteken, meestal deur tikskoppies te jaag in die semi-afwesigheid van 'n babelaas heelagter. Ons het in die tweede helfte teruggeveg, punte aangeteken, maar nie genoeg nie. Ek dink die eindtelling was 16-12 of so iets. Ek het mos gedink ons het gewen.
Die reis na die Wynland het na afloop van die hoofwedstryd begin en, hoewel ek met tevredenheid die geelgerypte gras en 'n swaar nederlaag wou agterlaat, het ek met meer as 'n tikkie heimweë my Kovsie-vriende gegroet. Die trein was aansienlik stiller huiswaarts as noordwaarts.
Daardie Sondagmiddag het ek in 'n moeë stilte by die wa se venster uitgestaar. Ons was in die Karoo, iewers tussen Beaufort-Wes en Matjiesfontein. In daardie oomblik het ek my geboorteplek en die omgewing gemis. Vir die eerste keer in my lewe was die vaal van 'n winter-Karoo mooier as die groen van Matieland. Ek het my ouers gemis. Ek het my jongdae gemis, toe dit my grootste verantwoordelikheid was om koerante betyds af te lewer. Ek het ons honde gemis. Ek het die stilte en die wydte en die grootsheid van die Karoo gemis. Ek het huis toe verlang. En ek vermoed die kiewiet voor die bus het deur my ore en binne-in my hart die verlange kom aanroep.
Die trein is weer vertraag. My suster, die goedheid vanself, het vanaf die Kaap gery om my en 'n paar vriende op Worcester te kom haal. Ons is agterop 'n oop Nissan 1400 bakkie deur die Hugenote-tonnel tot by ons onderskeie huise en koshuise; betyds vir die aanddiens by Studentekerk. Maar die kiewiet se skree en die kaal, vaal Karoovlaktes spook tot vandag toe nog by my.
Foto: Juanita Swart (Unsplash.com)
Comments
Post a Comment