Die liefde ruik soos stink voete en knoffel asems
"Elke poep ruik na laventel," het my pa gesê. Dit was die aand voor ek getrou het en ek het hom gevra (ietwat te laat) of hy dink ek is reg vir die storie. En op sy kort, kriptiese manier het hy vir my 'n antwoord gegee wat my steeds bybly. Meer daaroor later.
My pa se antwoord was eintlik 'n profetiese oomblik, want my vrou, het ek later uigevind, het 'n besonders sensitiewe reuksintuig. Dis so goed ontwikkel dat sy al vandag die knoffel in môre se kos kan ruik. Dis ongelooflik! Ek kan net daaraan dink om 'n bier te drink en sy sal dit uitsnuif.
Jy het seker al gehoor dat wanneer 'n mens een sintuig verloor die ander sintuie vir die verlies opmaak. As jy byvoorbeeld jou sig verloor hoor jy ewe skielik beter. Dis als goed en wel, maar my vrou het nog niks sintuie verloor nie. Inteendeel, sy sien ook beter as ek: elke spelfout, elke vuilkol op my hemp, elke kreukeltjie op die duvet, elke dingetjie uit sy plek.
Op 'n dag het ek ons woonstel probeer skoonmaak. Ek het gestofsuig, speelgoed weggepak, skottelgoed gewas, tafels afgevee, alles in 'n poging om die huis perfek te hê. Toe my vrou opdaag was haar eerste aksie om dinge reg te skuif: kussings op die rusbank, skoene op die skoenrak, glase in die kombuiskas. Ek het net verstom gestaan en toekyk. Daar was so baie details wat ek gemis het!
Haar reuksintuig bly egter die grootste van haar superkragte. En dis eintlik jammer vir haar, want sy het met 'n stink man getrou. Voor ons huwelik was ek salig onbewus van die stank wat ek soos 'n denkbeeldige vriend ronddra; 'n denkbeeldige vriend van wie almal behalwe ek weet. Dis nie dat higiëne vir my minder belangrik is nie. Ek stort elke dag (soms twee keer op 'n dag) en ek was my klere gereeld. Ek borsel my tande elke oggend en aand en eet 'n peppermentjie na my teetyd se koppie koffie. Ek het eers later uitgevind dat dit blykbaar nie genoeg is nie.
Van my voete wat stink was ek wel bewus. Veral toe ek na skool Rocky sandale begin dra het. Ons het dit "Mockys" genoem, for obvious reasons. Hulle werk goed as jy deur riviere of waterpoele moet loop sonder om jou voete seer te maak, maar word minder aangenaam na 'n lang, droë somersdag. En as jy dit lank genoeg in die son dra raak jou voete so kol-kol bruin dat dit soos vuil voete lyk en ruik.
In elk geval.
Ek het eers na 'n paar jaar van die huwelik besef hoe super my vrou se superkragte is. Die feit dat ek stink is eers later in ons huwelik gelug. Sy het vir etlike jare met my onwelriekendheid opgeskeep gesit. Dis mos hoe die liefde en verliefdheid werk. Soos my pa gesê het: "Elke poep ruik na laventel as mens verlief is. Julle sal eers 'n paar jaar se sakke sout saam moet opeet. Maar jy moet uithou en aanhou." My pa was die laaste mens wie ek om liefdesraad sou nader, maar die waarheid wat hy daardie aand kwytgeraak het was opmerklik en is nog steeds relevant.
Jou huweliksmaat, het ek geleer, is nie iemand wat jou foute en tekortkominge verdoesel nie. Dalk aan die begin, maar nie vir altyd nie. Nee. In jou eggenoot kry jy 'n spieël wat 'n egte, eerlike refleksie van jou ware menswees aan jou bied; warts and all. As twee mense 'n lewensruimte op so 'n intieme vlak deel kan jy ook net só lank maak asof 'n poep na laventel ruik voor jy die ooglopende begin uitwys...
Dit is, ten minste, in die ideale huwelik so. Mense is mos maar mense en menslik. En soms sommer net mislik. Maar dis ook goed so, want die liefde -ware liefde- nooi elkeen van ons uit om onsself te kom wees, sonder voorbehoud.
Stink voete en al.
Comments
Post a Comment