Wie's bang?

Koshuisrugby op Stellenbosch is 'n belewenis. Dis die kameraadskap onder koshuismaats; die koshuistrots. Dis die koshuisliedjies en skerp sêgoed wat langs die veld kwytgeraak word. Dis die nat, koue moddervelde wat deur asemrowende berge omring word. Dis die stringe studente wat met reënstewels en koshuiskleure verkeersknope rondom die Danie Craven Stadion op 'n Vrydagmiddag veroorsaak. Dis die manier hoe die verskeie ondersteunersgroepe nie meng nie, maar letterlik 'n kant kies om langs die veld te staan. Dis ook die gehalte hardlooprugby wat kenners waardeer. Harry Potter en sy quidditchspannetjies is niks in vergelyking met koshuisrugby nie.

Met wedstryde wat 17:00 afskop was daar gewoonlik 'n paar wetenskapstudente met wit jasse wat direk van 'n praktiese klas af gekom het. Nie alle dosente is sentimenteel oor Vrydae nie. Nog minder van hulle was rugbyliefhebbers.

Hierdie storie speel egter nie op 'n Vrydagmiddag af nie. Nee. Vrydae was vir die eerstespanliga, Donderdae vir die tweedes, ens. Hierdie storie het op 'n droewige derdeliga Woensdag plaasgevind.

Noddis, 'n vriend van my, het in Academia gebly. Dit was 'n relatief nuwe studenteblyplek in Stellenbosch: 'n paar woonstelblokke anderkant die Ingenieursgebou met hul eie huiskomitee. Daar is 'n passiegedrewe besluit op 'n huisvergadering -of dalk 'n rooiwyn-gedrewe besluit langs 'n braaivleisvuur- geneem om 'n rugbyspan by die koshuisliga in te skryf. Dit is immers Stellenbosch.

Ongelukkig moes Academia se eerste (en enigste) rugbyspan hul pad na Vrydagmiddag-wedstryde toe oop speel. Hulle moes hul staal wys. Vrydagwedstryde word verdien. Net omdat 'n groepie jongmanne die Eerstespan-etiket dra beteken nie dat hulle in die eersteliga hoort nie. Maar 'n eerstespan kan ook nie in Maandae se vyfdeliga speel nie! Dis tog onvanpas! Daarom het Academia by die derdeliga op Woensdae aangesluit.

Noddis was een van Academia se stutte. Baie atleties gebou: 'n torso soos 'n diskus met spiesgooi spiese vir bene. Maar met alle grappies op 'n stokkie, die man het al aan talle Iron Man kompetisies deelgeneem en klaargemaak. Ek dink hy is 'n beter atleet as wat ek ooit was of sal wees.

So atleties as wat Noddis en een of twee van sy spanmaats was, kon hulle een Woensdag nie 'n vol span bymekaar trek nie. Ek dink dit was 'n kombinasie van toetse, praktiese klasse, beserings en griep wat onder die span gemaai het. Uit pure nood vra Noddis toe vir my, 'n Libertas privaat-student wat niks met Academia te doen het nie, of ek beskikbaar en bereid sou wees om tokse af te stof en saam met hom vir Academia se eerstes en enigstes uit te draf. Ek het geen verpligtinge of verskonings gehad nie, so ek het met my skoon tokse en bont sokkies as heelagter vir Academia aangemeld.

Ons het truie uitgedeel, 'n bal rondgegooi en bietjie gestrek vir opwarming. Tussendeur is spanmaats aan mekaar voorgestel en name feitlik onmiddellik weer vergeet. Ek was nie die enigste supersub nie. Daar was vriende van vriende se vriende wat kom uithelp het. Ek is seker dat daar ouens in die span was wat toevallig by die veld verbygestap het en nadergetrek is. Jy weet mos. Right place at the right time tipe ding. Met ons pre-wedstryd spanpraatjie het die kaptein ('n Maties waterpolo speler op agtsteman) in 'n swaar Engelse aksent gesê: "Ek geniet Academia se rugby. Jy sien altyd nuwe gesigte." Duidelik 'n ekstrovert Ingelsman wat die sosiale kant van rugby meer as die vaardigheid en vloei daarvan waardeer het...

Die agterlyn het vir oulaas hul name gesê, ooreengekom wie watter posisie moet speel (mens kan nie met twee linkervleuels en niks senters verwag om te wen nie), 'n paar balle rondgegooi, weer name genoem en by die voorspelers gaan aansluit; reg vir die stryd. My asem het al geblaas.

Onder die luide gejuig van al sewentien Academia ondersteuners het ons uitgedraf. Ek dink die eerste biere was al gesink toe die skeidsregter ons wedstryd aan die gang blaas.

Dit was 'n mooi dag: redelik koel, maar sonnig genoeg om die ergste modder op die veld droog te bak vir mooi hardlooprugby. Dis eintlik jammer, want daar was geen mooi hardlooprugby nie. Nie waar ons gespeel het nie. Dit was meer skoppe en skrums van beide kante af. Amper soos dryfings, maar met 'n skrum waar die laaste span die bal aangeslaan het. Die spel het selde tussen die kwartlyne uit beweeg.

So halfpad deur die tweede helfte het iets gedraai. Academia het begin spoed vang. Ons het geskop. Hulle vleuel het die bal probeer vang en, soos verwag, aangeslaan. Skrum op die kwartlyn. Academia se bal. Ek het reg agter die skrum gestaan om my jagende asem te vang, maar ook om enige los balle agter die agterlyn op te pik indien die koekie seep weer deur die agterlyn se hande gly. Oom Kat Myburgh het ons heelagters en vleuels op skool so geleer. Hy het ons ongelukkig nie gewys wat om te doen as mens doodmoeg is nie, so ek moes improviseer en myself skaars genoeg hou om nie betrokke te raak nie.

Op 'n manier het die waterpolo agtsteman die bal agter die skrum opgetel, na die kortkant toe gehardloop, die opposisie skrumskakel getrek en vir ons skrumskakel aangegee. Dié het op sy beurt die verdedigende vleuel getrek en vir my aangegee wat net daar vir morele ondersteuning wou wees. Die regtervleuel was nie daar nie. Seker langs die linkervleuel gaan staan. Ek het die bal net anderkant die kwartlyn gevang met 'n oop doellyn, geen ondersteuning (moreel of andersins) en trane van teleurstelling in my oë. Nou moes ek seker hardloop; iets wat ek liefs sou wou vermy.

Met alle mag en mening het ek weggespring, my gewig vorentoe gegooi en begin spoed vang hoekvlaggie toe (soos Oom Kat die vleuels destyds geleer het). Hoe gouer ek druk, hoe gouer kan ek rus. Alles het in slow motion gebeur: Die kruisverdediging het nader gestorm. Die wedstryd was op die spel. Maak of breek. Die doellyn het nadergekruip. Sekondes het soos minute gevoel. Die kruisverdediging wou keer. Ek wou net klaar maak.

Met 'n verdediger op my rug en nog een  om my enkels het ek na die doellyn geduik. Die skeidsregter het nader gedraf, vir 'n oomblik gekyk of ek dalk uitgetrap het, en summier die drie toegeken! Ons was nou voor met minder as tien minute se speeltyd oor. Ons sou van hier af waarskynlik wen!

Ek was gelukkig genoeg om die drie aan die Academia ondersteuners se kant te druk. Teen daardie tyd was al die koelhouers al leeg en die tonge natuurlik so los soos Die Vrou van Spreuke 7. Soos ek terug halflyn toe stap het my spanmaats my op die skouers kom klop en gelukgewens. Iewers agter my, vanuit ons eie sewentien ondersteuners, het ek gehoor hoe iemand sê: "Dis net 'n bang ou wat so vinnig hardloop."

Nou ja. Ek het die opmerking nie persoonlik gevat nie. Ek was meer verlig as vies en meer uitasem as verlig. En ek dink nog steeds nie ek het só vinnig gehardloop nie...


Photo by Quino Al on Unsplash

Comments

Popular Posts