Verjaarsdagkoeke

My ma is 'n bobaas bakster. Sy het altyd die mooiste verjaarsdagkoeke gebak en versier. Nommers, patroontjies, poppe, monsters... sy kon enige ding in 'n koek omskep. Sy het rakke en rakke resepteboeke gehad (of "koekboeke" soos ek en my suster dit genoem het). Wanneer ons verjaarsdae nadergekom het kon ons deur die boeke blaai en 'n koek vir die verjaarsdagpartytjie kies.

Ek kan nie onthou wat my suster gekies het nie, maar ek wou altyd die swembad een hê. Seker oor ons nie 'n ingeboude swembad by ons huis gehad het nie (die blou opslaanswembaddens tel nie, want hulle het meer gelek as 'n hond wat peanut butter van 'n lepel af eet). Die swembadkoek is 'n ring van koekvingers gemaak met groen jellie binne-in wat soos water lyk. Die koekboek se prentjie het 'n paar plastiek mannetjies wat swem, groen gekleurde klappergras rondom en 'n pers cocktail sambreeltjie op die rant gehad. Dit was pragtig en, sover ek kan onthou, elke jaar my eerste keuse. My ma het dit wel nooit gemaak nie, want mens kan nie jellie so mors nie. Ek moes dus elke jaar 'n ander koek gekies. 

Daar was 'n reisiesbaan met speelgoedkarre as renmotors, 'n rugbybal (bruin met wit nate rondom die pompgaatjie*), en nog vele ander. Elke koek met meel, suiker, botter, eiers, versiersuiker, tonne kreatiwiteit, 'n vernuftige hand en eindelose liefde gemaak. Ons kon nooit oor ons verjaarsdagkoeke kla nie. Dit was menigmaal die hoogtepunt van die dag!

Die koek wat ek die beste onthou is die rugbyveld met my sesde verjaardag. Dit was 'n reghoekige plaatkoek met liggroen versiersel bedek. Die lyne is met wit versiersel gemaak en die pale was van plastiek strootjies. Daar was nie paalbeskermers om nie, want dit was in die goeie ou dae toe rugbyspelers nie kon seerkry nie... Daar was selfs 'n paar jelly baby spelers en 'n sjokolade rugbybal op die veld. Dit moes 'n 7's-toernooi wees, want ek dink nie daar sou dertig spelers op een slag op die veld pas nie. Dit was 'n fantastiese koek! Strate beter as die geel gras met 'n krieketblad in die middel van die skool se veld. Nuweland en Loftus Versfeld kon nie so mooi soos daardie koek lyk nie. Ek was diep in my noppies. Ek was so opgetrek met die kunswerk dat ek dit nie eers wou eet nie! Seker dié dat my hart tydens die verpligte fotosessie in 'n miljoen stukkies gebreek het.

Ek onthou dit goed. My ma het die koek na my oupa-hulle se huis gebring waar ek en my suster middae na skool gebly het. Ons het in die kombuis gestaan en my ma het fotos geneem: eers van die koek alleen, toe van my saam met die koek - die breedste glimlag wat my gesig kon uitdruk - 'n paar van my alleen, en 'n laaste een van my langs die koek. En dis toe waar die paw-paw die fan slaan. Of eerder waar my skoensool die veld betree het. Die koek het langs my op die vloer gestaan vir die lugfoto effek (dit in die dae voor drones!). In my opgewondenheid het ek kant toe getree en per ongeluk op die hoek agter die rooi jelly baby-span se doellyn getrap. Chaos.

My skoene was nog klein so die letsel was seker nie groter as 4 cm by 4 cm groot nie. Die letsel in my hart en in my gemoed was groter. Baie groter. Groter as 'n regte rugbyveld. Groter as al die oseane saam. Groter as die black holes waarvan ons toe nog nie geweet het nie. Ek het in trane uitgebars. My hart was aan flarde. Hoe kon ek so onnosel wees om die perfekte verjaarsdagkoek so te verniel?! My ma was natuurlik baie kalmer en het probeer om te troos waar sy kon. Met 'n paar grasieuse smere van 'n bottermes en 'n realistiese storie van 'n atletiekbaan rondom die rugbyveld (plattelandse kinders sal weet waarvan ek praat) het sy my trane weggevee en die stukkies van my hart bymekaar gemaak.

Die laaste paar fotos was van my met rooi-gehuilde oë langs die pragtigste koek wat ek ooit gesien het. Mens kon nie eers die duik agter die hoekvlaggie sien nie. My ma het my daar geleer dat 'n mens die meeste foute kan regmaak, en dat dit die klein onvolmaakthede is wat iets generies in iets uniek en onvergeetlik kan omskep.

* - Ja, ek is oud genoeg om in my jongdae met 'n Super Springbok leer rugbybal te kon speel. Hulle het nate rondom die pompgaatjie gehad wat ysige, pienk kaalvoete op 'n witgerypde rugbyveld lelik seergemaak het as jy die bal met die verkeerde kant ondertoe wou skop. Dis hoekom ek eerder stut gespeel het...

Comments

Popular Posts