Twee skote op dieselfde bok

Ek sal baie dinge doen net omdat die geselskap goed is. Baie aktiwiteite wat meer na werk as pret lyk, word vir my 'n plesier as ek dit saam met die regte mense aanpak. Daarom was 2005 se jag-trip Namibië toe vir my so spesiaal. Dit was nie net my eerste jag nie - iets wat al lankal wou doen - ons vyfmanskap was ook goeie vriende (is seker nog steeds). En al was daar elke aand onaardse fines vir wie-weet-watookal (soos dat ek 'n lelike leer hoed gedra het) was dit steeds 'n merkwaardige nege dae in die suide van Namibië.

Ek noem my hoed en die boete wat my medejagters my eenparig mee belas het, want ek dink dit dra by tot die storie. Dit gaan als oor jaloesie, dink ek...

Daardie spesifieke dag was vir my 'n bonatuurlike goeie dag. Ek het my eerste bok - 'n springbok - geskiet en die toepaslike stukkie rou lewer geëet. Dit was gelukkig 'n ooi... Dit het so gebeur:

Noddis het die Land Cruiser bestuur met die res van ons agterop. Dit was my beurt om te skiet, so ek het die geweer vasgehou. Duin op en duin af, tussen bosse en klippe deur. Tot op daardie stadium het ons nog nie bokke gesien wat naby genoeg was om 'n groentjie die skraalste kans op 'n goeie bladskoot te gee nie. 'n Mens begin mos by die vlak kant met swemvlerkies voor jy diepkant toe neuk. Tensy die nood druk. Maar dis 'n ander storie.

In elk geval.

Noddis het iewers gestop om te luister of te kyk of so iets. Ek kan nie presies onthou hoekom ons gestop het nie, want Noddis het niks bokke naby gesien nie. Maar ek het. Reg voor ons was 'n paar bosse, redelik dig bymekaar, met 'n lae opening tussen twee van hulle. In daardie opening het ek 'n springbok se kop sien uitsteek. Net die kop wat na ons kant toe kyk. Die lyf was agter die bosse, so 'n bladskoot was uit. Ek probeer toe so stil as moontlik aan Noddis kommunikeer dat ek 'n bok sien, wat hy nie kan sien nie. Die bok was seker so 50 meter voor die Cruiser. Nie soos Fourie later sou verduidelik dat Noddis eers moes reverse sodat ek die geweerloop tussen my en die bok kon inkry nie.

Noddis sê toe dat ek maar moet skiet, want hy sien nie die bok nie. Dalk het hy 'n bonatuurlike onderskeidingsvermoë gehad om te weet dat ek sou raak skiet. Of dalk het hy gedink dat ek in elk geval die kopskoot sou mis, en dat die bok sou laat spaander. In ieder geval was kwes kwessies buite die kwessie, wat 'n wen vir almal sou beteken.

Ek het aangelê. Ek het asemgehaal. Ek het die sneller getrek. Ek het mis geskiet. Ek sweer die patroon is tussen die bok se horings deur. Dis seker te verwagte dat 'n groentjie se eerste skoot mis moet wees. Wat niemand verwag het nie was dat die bok toe mooitjies daar bly staan het. En bly kyk het. En dalk gewonder watse tipe vlieg nou-net deur haar horinkies gevlieg het. Of hoekom die donderweer dan so naby geklink, maar geen wolke in sig was nie.

Verbaas het ons vir Noddis weer so saggies as moontlik probeer verduidelik dat die bok nog steeds daar staan, al kon hy haar nog steeds nie sien nie. Hy sê toe doodluiters dat ek maar weer moet skiet. So gesê, so gedaan. Ek het aangelê. Ek het asemgehaal. Ek het die sneller getrek. Dié keer het die bok geval. 'n Mooi kop skoot, net bo die linker oog.

Dalk was ek gelukkig. Dalk is ek 'n onbewuste bo-gemiddelde goeie skut. Dalk was die bokkie doof. Ek weet nie, en ek wil nie eintlik weet nie, want die uitkoms was 'n sukses. En daardie sukses het my twee boetes in die sak gebring: een vir beste-skoot-van-die-dag en een omdat ek blykbaar 'n lelike hoed gedra het. En ek het die boetes met 'n glimlag betaal... en later onder die doringboompie agter die huis daarvoor betaal.

Dis nie aldag wat jy twee skote op dieselfde bok in dieselfde plek kan skiet nie. Twee kanse kom nie gereeld so vinnig na mekaar verby nie. En 'n mens kan ook nie iets raak skiet (al is dit per ongeluk of per onvermoë) as jy nooit die sneller trek nie.

Comments

Popular Posts