Eerste liefde en 'n week in sy moer
Ek het nog nooit baie selfvertroue gehad nie. Veral nie met die skoner geslag nie. Op skool was ek hoofseun, eerstespan rugby kaptein en VCSV voorsitter, maar dit het nie baie vir my selfbeeld gedoen nie. Dalk is dit omdat ek vir lank in my lewe nederigheid met selfvernedering verwar het. Blykbaar is selfvertroue 'n meer aantreklike eienskap...
Of dalk is dit oor ek 'n duur les vroeg in my tienerjare begin leer het.
In standerd 6 het ek vir die eerste keer verlief geraak. Haar naam was *Bertha. Ek het aangeneem dat ek verlief was omdat ek tot op daardie stadium nog nooit oor 'n nooi gevoel het soos ek oor Bertha gevoel het nie. En verliefdheid dryf 'n mens mos tot aksie. Wie nie waag nie wen nie. Maar wat verliefdheid in die fynskrif van die lewe loop wegsteek is dat wie nie waag nie ook niks verloor nie. Waag is mos soos dobbel, en dobbelary is mos sonde... Hoe dit ookal sy, ek het besluit om iets oor die verliefdheid te doen en my gevoelens, my trots en my goeie naam op die spel te plaas. Ek sou haar uitvra.
Alles was haarfyn beplan. Die groot vraag sou Vrydagoggend voor skool gevra word. Sodoende sou ons teen eerstepouse, so tussen die grondboontjiebotter-en-konfyt-toebroodjies deur, al hande kon vashou en aan die wêreld verklaar dat ons liefde vir mekaar nooit sou eindig nie. Dinge het ongelukkig 'n onvoorsiene draai gevat en ek het haar nie voor skool gesien nie. Of dalk het ek haar vermy omdat dit makliker is om verskonings as ruseltate te kry.
So het eerstepouse met toebies en al gekom en gegaan. Tweedepouse was te kort om iets uitgerig te kry. En om 'n briefie in die klas aanstuur is sóó laerskool. Dit moes na skool gebeur, of glad nie.
Toe die klok vir huis-toe-gaan-tyd lui, was ek eerste by die klasdeur uit. Ek het so vlugvoetig soos 'n wafferse Springbok-senter deur die massas skoolkinders gevleg om naby die skoolhek te gaan wag waar sy elke dag die terrein verlaat het; 'n verliefde ou let op sulke fyn details. Ek het haar sien aankom, haar eenkant toe geroep en 'n stiller plekkie onder die skadubome gesoek om my liefde aan haar te verklaar.
Nou ja. Om 'n nooi nét na skool in jou vuil skoolhemp -a.g.v. touchies speel- op 'n Vrydagmiddag uit te vra is omtrent so romanties soos om met nat hout te braai: dis onplesierig, dit laat jou oë traan en dit moet ten alle koste vermy word. Daardie les leer mens ongelukkig net deur ervaring of deur die regte TV-programme te kyk. Beverly Hills 90210 en Dallas was taboe in ons huis, so ek het noodgedwonge die meer pragmatiese, reguit benadering gevat.
"Sal jy met my uitgaan?" het ek uigeblerts; stil genoeg dat verbygaande skoliere nie sou hoor nie, maar hard genoeg dat sy darem die vraag sou hoor. Haar antwoord was nie 'n onvoorwaardelike ja soos ek gehoop het nie, maar ook nie heeltemal negatief nie. Sy sou die naweek daaroor dink en Maandag vir my 'n antwoord gee. Ook maar beter so, want ek weet nie wat ons sou doen as sy sou ja sê nie. My planne het nie so ver die toekoms in gestrek nie.
Ek kan nie baie van die naweek onthou nie. Nie omdat ek op naalde en spelde gesit het nie, maar net omdat naweke op skool 'n redelike vaste patroon gehad het. Saterdag oggende was aan skolesport toegewy. Na die sport het my ma altyd 'n vars broodjie by Johnny Good Hope se kafee vir middagete gaan koop. Saterdagmiddae het ons so stil as moontlik sport op die TV gekyk terwyl my pa vir sy wedvlugduiwe wag, en Sondae was dit kerk. Wat ek wel onthou is dat ek reg was met my grondboontjiebotter-en-konfyt-toebies vir eerstepouse se hande vashou toe ek daardie Maandagoggend deur die skoolhekke stap.
Ek het haar en haar vriendinne op die aantree-vierkant raakgesien, maar net verbygestap; gemaak of ek haar nie sien nie. Dis mos nie iets wat sy met haar vriendinne sou bespreek nie, so hoekom sou ek haar verneder deur voor hulle vir haar antwoord te gaan vra? Ek en my vriende het mekaar gewoonlik op 'n spesifieke plek gekry waar die Matrieks ons nie voor skool sou pla nie, so ek was vinnig op pad soontoe. Bertha moes my egter raakgesien het, want een van haar vriendinne (kom ons noem haar *Lefienja) het agter my aangekom en op die skouer getik. Toe ek omdraai en groet het ek nie regtig verwag wat sou volg nie.
Lefienja het my in die oë gekyk met 'n ietwat venynige glimlag wat oor haar lippe speel. Sy het duidelik iets geweet wat ek nog moes uitvind. "Bertha sê... JAMMER!!!" het sy uitgeblaker met 'n sywaartse knik van die kop. My hart het in my skoene weggesak, deur my sole gesmelt en in 'n plassie onder my voete gaan lê. Maar ek wou nie wys hoe diep haar woorde en sulke nuus op 'n Maandagoggend gesny het nie, so ek het haar vir die boodskap bedank, so non-chalant as wat my lammerige knieë sou toelaat omgedraai en verder na my vriende toe gestap. Ek dink nie dit is te verregaande om te sê dat die res van my week - en al my selfvertroue - in hulle moer was nie.
En so het die les begin. Ek moes, soos almal van ons, leer om groot teleurstelling te hanteer. Ek leer nog steeds. Selfs ín die huwelik. Net omdat sy ja geantwoord het op die grootste vraag ("Sal jy met my trou?") beteken nie dat sy ja sal antwoord op die daaropvolgende versoeke nie. Veral nie op 'n Vrydagmiddag nie.
* Bertha en Lefienja is skuilname, want wie weet waar hierdie blog in die kuberruim gaan draai...
Comments
Post a Comment