Oueraand

In my vorige lewe (nege jaar terug en in 'n ander land) was ek 'n hoërskool onderwyser. Biologie (Grade 10-12) en Wetenskap (Grade 8 en 9). Die meeste skole in Suid-Afrika deel ook nog verantwoordelikhede aan personeellede uit soos wat Oprah Winfrey presente by haar TV-opnames uitdeel. Dít bo-op al die ander werk waarop my NOS-dosente my nooit voorberei het nie.

Administrasie is 'n voorbeeld. Dit is waar die skool se registerklasse 'n kompetisie hou om geld in te samel vir nuwe atletiekhekkies of tennisnette. Die musiekjuffrou sou dalk híérdie jaar aftree (dankie tog...) en blomme is duur. Wie weet waarop die geld spandeer sou word! As registeronderwyser moes ek seker maak my klas dra by tot die skoolbus se retreads of kompos vir die hokkieveld (Oom Sarel, die opsigter, ken iemand wat 'n bargain sal aanbied). Om ewe skielik te verneem dat jy nou 'n de facto rekenmeester, geld-eiser en motiveringsprediker moet wees is maar 'n bitter pil om te sluk. Veral vir iemand soos ek wat die onderwys ingestruikel (eerder as ingetree) het.

Nog iets waarop jong onderwysers nie voorberei word nie is oueraande. Veral as jou vakgebied wetenskap of wiskunde insluit. In my ervaring is daar maar 'n klein persentasie van mense (nog kleiner onder tieners) wat passievol oor wetenskap is. En met "passievol" bedoel ek iemand wat enige belangstelling van enige aard, hoegenaamd ook al het. Ek weet nog nie hoekom nie. Dalk is dit 'n stigma wat aan dié vakgebiede klou soos klitsgras aan 'n wolkombers. Dalk is dit die ouers se invloed. Dalk is dit hormone. Dalk is dit net 'n fase. Dalk is dit omdat Wetenskap 'n verpligte vak tot Graad 9 is en tieners hou van rebelleer. Wie weet!? Hoe dit ook al sy, dit was vir my redelik moeilik om kinders opgewonde oor die wonder van die wêreld en hoe dit werk te maak.

Wat ook nie gehelp het nie is hoe die klasse ingedeel is. In elke graad was daar gewoonlik tien registerklasse (A tot J) en leerders is nie lukraak ingedeel nie. Klasse A tot D het meestal die beter akademiese presteerders gekry, op grond van vorige jare se eksamenresultate. So het die klasgemiddeldes stelselmatig afgeneem tot by die J-klas. Hierdie klassies het die meeste "gees" en "vuur" gehad, maar oor die algemeen geen belangstelling in Wiskunde of Wetenskap nie. Vir die grootste deel van my onderwysloopbaan was dit my voorreg om begeesterde klassies laer op die alfabet se Wetenskaponderwyser te wees.

Ouers stel egter hoër verwagtinge, al is dit nie realisties nie. Dis asof hulle dink dat liefste Matildatjie met 'n witjassie en dikraam-brille gebore is en dat ek, as Wetenskaponderwyser, die enigste struikelblok is vir haar om 'n Nobelprys vir Wetenskap te wen. En dis hoekom Oueraand vir my so moeilik was.

Een jaar, toe die noodlot en die indelingskomitee dit so bestem het dat my Wetenskapklassies almal na E op die alfabet verskyn, was daar so baie ouers wat my wou spreek dat al my 10-minuut afsprake volbespreek was. Ek moes die volgende week nog 'n oueraand inwerk om almal te sien. Dit was vir my stresvol. Wat sê jy vir Kareltjie (wie in Graad 3 laas huiswerk gedoen het) se ouers? Wat sê jy vir Rageltjie (wie eerder oor pouse se drama op die speelgrond as plantwortels wil gesels) se mamma? Wat sê jy vir Siphiwe (wie eintlik net wil rugby speel en buite wees) se pa wat wil hê sy seun moet net rugby speel en goeie punte kry?

Maar, soos alle dinge (goed en sleg), kom sulke aande ook tot 'n einde. Vir my het daardie einde 21:00 gekom toe ek met my laaste energie by my woonstel se trappe op sukkel en my skoene en das uittrek. Ek het besluit om die geleentheid te vier met 'n glasie rooiwyn, 'n sigaar en 'n National Geographic tydskrif in 'n warm bad. Daar was baie skuim en dalk 'n kersie of twee, maar dit kan ek nie bevestig of ontken nie... Dit was só goed om na 'n stresvolle paar weke te onstpan dat ek dalk nog 'n glasie geskink het voor ek die volgende artikel begin lees het.

Dit moes 'n lekker wyntjie en 'n vervelige artikel gewees het, want ek het 01:37 in 'n ysige bad wakker geword: sigaar wat in die water dryf, leë glas op die badmatjie, National Geographic langs die bad. Ook maar goed dat ek toe wakker geskrik het sodat ek verder in my bed kon gaan rus. Môre was 'n nuwe dag en Matildatjie se Nobelprys vir Wetenskap sou nie vanself kom nie.

Comments

Popular Posts